Wanneer ons ’n boedelbeplanning vir ons kliënte doen, is een van die hoofdrywers om boedelbelasting te beperk of – nog beter – te voorkom.

Dit is egter nie altyd moontlik nie en in die meeste gevalle is die redelike aanname deur beide adviseurs en kliënte dat die aanspreeklikheid die boedel s’n is.

Die lewe (en dood, soos in hierdie geval) is egter nooit so eenvoudig soos wat ons dit graag sou wou hê nie!

Ons moet verstaan ​​waar of deur wie die boedelbelasting betaalbaar is om te verseker dat voldoende voorsiening gemaak word om dit sonder enige negatiewe implikasies te kan vereffen.

Artikel 11 van die Boedelbelastingwet bepaal dat daar spesifieke gevalle is wanneer die eksekuteur nié aanspreeklik is vir die boedelbelasting op sekere bates nie.

Een daarvan is waar ’n annuïteit of beperkte belang (vruggebruik) na ’n begunstigde oorgaan. In hierdie geval sal laasgenoemde aanspreeklik wees vir die belasting wat aan daardie voordeel gekoppel is.

Ook, waar boedelbelasting betaalbaar is ten opsigte van die geagte eiendom, soos per artikel 3(3), sal dit betaalbaar wees deur die persoon wat die voordeel ontvang.

In die geval van ’n opbrengs op ’n lewensversekeringspolis sal die proporsionele boedelbelasting deur daardie polishouer of begunstigde betaalbaar wees.

Dit is ’n vereiste dat die persoon geregtig moet wees om die opbrengs kragtens die polis te ontvang. Daarom is dit van toepassing op enige persoon wat as ’n begunstigde op ’n polis genomineer is.

’n Polishouer wat nie die versekerde lewe is nie en waar geen ander begunstigde aangeteken is nie is ook geregtig op die opbrengs. Dit is relevant met besigheidsversekering waar die polishouer in die algemeen die persoon – of entiteit – is wat geregtig is op die opbrengs.

Waar ’n skenking gemaak is wat nie aan skenkingsbelasting onderhewig was nie (donatio mortis causa) en gevolglik aan boedelbelasting onderhewig is, sal die begunstigde aanspreeklik wees vir die proporsionele belasting op die bate.

Artikel 13 bepaal dat die eksekuteur geregtig is om enige belasting wat soos in die bogenoemde gevalle betaalbaar is van die onderskeie partye te verhaal.

Die eksekuteur kan slegs die proporsionele belasting ten opsigte van daardie spesifieke bate van die betrokke persoon eis en ’n berekening sal nodig wees om te verseker dat die regte bedrag verhaal word.

Waar die eiendom na ’n gade oorgaan, sal geen boedelbelasting betaalbaar wees nie aldus Artikel 4(q) wat oor aftrekking en vrystelling handel.