Die onlangse versterking van die rand en die invloed daarvan op buitelandse beleggings het gewys waarom ek ten gunste van bate-diversifikasie is wanneer dit by beleggings kom, skryf Pieter Willem Moolman, stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth.

Die beginsel agter gediversifiseerde portefeuljes is dat sekere beleggings sal presteer terwyl die ander swaarkry.

Omdat dit moeilik is om korttermyn-bewegings in die wisselkoers te voorspel, is die fokus van hierdie aanslag om ‘n goeie opbrengs oor die langtermyn te bewerkstellig.

Hoewel die rand die afgelope kwartaal die sterkste geldeenheid in ontluikende markte was, is dit waarskynlik dat dit oor ‘n periode van tyd stelselmatig sal verswak en daarom is dit steeds belangrik om in die buiteland te belê.

Buitelandse beleggings kan, in eenvoudige taal, deur middel van bate-ruiltransaksies of direkte beleggings gemaak word.

Met eersgenoemde, moet die geld teruggebring word Suid-Afrika toe wanneer dit verkoop word of in die geval van dood en bly dit dus ‘n binnelandse bate.

Daarteenoor word direkte buitelandse beleggings volgens die bestaande valuta-maatreëls hanteer.

Dit behels dat dit deur ‘n natuurlike persoon gedoen moet word en dat belastingklaring verkry moet word sodra die bedrag R1-miloen per jaar oorskry. Die geld kan egter in die buiteland bly.

Direkte buitelandse beleggings sonder voldoende beplanning kan egter in die geval van dood probleme veroorsaak, waarvan buitelandse boedelbelasting een is. ‘n Buitelandse testament is dus iets wat in gedagte gehou moet word.

Ten spyte van sulke klein jakkalsies, is daar wel effektiewe maniere om fondse in die buiteland te belê. Dit verg net deeglike beplanning.