Die bereddering van bestorwe boedels is ‘n plesier wanneer die boedelplanning ordentelik gedoen is, skryf Pieter Willem Moolman, stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth.
Sonder behoorlike boedelbeplanning kan dit morsig raak en in baie gevalle tot ‘n herverdelingsooreenkoms lei.
As al die erfgename nie saamstem nie, het jy probleme. Ek het self al ervaar hoe ‘n familie uitmekaar kan spat oor potte en panne.
Daar is verskeie definisies van boedelbeplanning, maar, volgens die kenner Meyerowitz, is dit die reël, bestuur, beveiliging en rangskikking van ‘n persoon se boedelbates.
Volgens hom moet dit op so ‘n wyse gedoen word dat hy vir homself, sy gesin en ander begunstigdes gedurende sy leeftyd en vir sy gesin en ander begunstigdes ná sy dood die optimum en voortgesette benutting daarvan verseker.
Boedelbeplanning is ‘n vakgebied op sy eie, maar ek sal probeer om kortliks die noodsaaklikheid daarvan te verduidelik.
Die eerste vraag is of jy weet wat alles in jou boedel is en wat die waarde daarvan is. Dit is krities en die beginpunt van die beplanningsproses.
Nadat jy bepaal het wat in jou boedel is, gaan dit oor die stel van doelwitte. Ek wil beklemtoon dat boedelbeplanning nie primêr op belastingbesparing gerig moet wees nie – dit is potensieel gevaarlik omdat wetgewing oornag kan verander.
Dit speel wel ‘n belangrike rol. Ander doelwitte behels aspekte soos die versorging van jou eggenoot en ander afhanklikes, die vermyding van twis tussen familielede en die kontinuïteit van boerderye, sake-ondernemings en beleggings.
‘n Praktiese en uitvoerbare testament vorm ‘n integrale deel van ‘n goeie boedelplan en vergemaklik die opstel daarvan.
‘n Ander vraag is of jy weet wat jou boedelkoste gaan wees en betyds daarvoor voorsiening te maak.
Behalwe eksekuteursfooie, is inkomstebelasting, boedelbelasting, kapitaalwinsbelasting en hereregte normaalweg betaalbaar. En moet nie die effek van die aanwasbedeling onderskat nie.
‘n Tekort aan kontantvloei in jou boedel kan tot die verkoop van bates lei. Hier speel die regte ondernemingsvorm dus ‘n rol.
Gaan sien vandag nog ‘n kenner om onaangename verrassings te vermy.