Finansies speel ’n belangrike rol in elke individu en huisgesin se lewe. Skryf Pieter Willem Moolman, stigter van PWM Finansiële Bestuur in Port Elizabeth.
En nét soos met gesondheid, is dit belangrik om van tyd tot tyd roetine-ondersoeke te laat doen om jou finansiële welstand te bepaal.
Indien jy nalaat om dit te doen, kan jy maklik in die “finansiële” waakeenheid beland – veral in hierdie uitdagende tye waarin die ekonomie maar self worstel om kop bo water te hou.
Die belangrikste beginsel in die finansiële wêreld is natuurlik om nie meer uit te gee as wat jy verdien nie. Indien jy nie hierop ag slaan nie, kan die gevolge verrykend wees.
Nou hoe verhoed ’n mens dit dan? Al ooit gehoor van ’n begroting? Dit is net mooi die doel daarvan.
En mens het glad nie ’n finansiële graad nodig om die kloutjie by die oor te bring nie. Hou net rekord van jou inkomstes en uitgawes en begroot daarvolgens.
Finansiële beplanning eindig natuurlik nie by ’n begroting nie. Ek kan letterlik ’n boek hieroor skryf, maar gaan hier net die belangrikste aspekte uitlig.
Indien jy ’n broodwinner van ’n gesin is, maak seker dat jou afhanklikes finansieel onafhanklik is by ontydige dood.
Het jy ’n voldoende inkomstebeskermer in plek in die geval van tydelike en/of permanente ongeskiktheid? Dit kan katastrofiese finansiële gevolge vir ’n gesin hê.
As jy môre iets sou oorkom, weet jy of daar voldoende kontant in jou boedel is om die boedelbereddingsproses sinvol te kan afhandel? Likiditeit in ’n boedel is noodsaaklik en verhoed dat die eksekuteur bates moet verkoop.
Van ’n eksekuteur gepraat, het jy ’n testament en is dit op datum? Moenie met jou broek op jou knieë gevang word nie: dit is ’n lewende dokument wat aangepas moet word soos en wanneer jou omstandighede verander.
Die ander belangrik risiko-aspek is medies. Oorweeg ’n hospitaalplan indien jou fondse beperk is.
Als hierbo kan deur middel van verskillende risiko-produkte aangespreek word.
Verdere aspekte van sinvolle finansiële beplanning sluit in aftree-, beleggings- en besigheidsbeplanning (indien jy ’n onderneming besit).
Vind vandag nog ’n kundige finansiële adviseur wie jy kan vertrou om jou te help om jou finansiële plan reg te dokter.