Verlede maand het ons stilgestaan by die belangrikheid van ’n finansiële beplanner in jou lewe.

Die grootste rede hiervoor is om jou van ’n padkaart te voorsien om die doolhowe bekend as boedel- en aftreeplanning suksesvol te betree.

Die belangrikste gedeelte van boedelbeplanning is om seker te maak dat jou afhanklikes finansieel onafhanklik is by ontydige dood. Indien daar nie genoeg bates is om voldoende inkomste te lewer nie, moet dit aangevul word met lewensversekering.

Die hoeveelheid sal van persoon tot persoon verskil. ’n Riglyn is om ’n miljoen rand se kapitaal te hê vir elke vyfduisend rand se maandelikse inkomste.

In baie gevalle word ekstra voorsiening gemaak vir kinders se erfporsies. ’n Voorbeeld is wanneer ’n boer sy plaas aan sy seun vererf en deur middel van lewensverskering vir sy dogters voorsiening maak.

Voorsiening vir afhanklikes skiet dikwels te kort omdat mense nie tred hou met die waarde van geld nie. Verlede week weer was ’n kliënt van mening dat R3-miljoen genoeg is vir sy vrou en drie kinders wat nog in die laerskool is.

Ek kon nie met hom saamstem nie.

Soos by dood, kan ontydige ongeskiktheid katastrofiese finansiële gevolge vir ’n gesin hê. Die vraag is of jy presies weet wat jou situasie gaan wees as jy skielik tydelik of permanent ongeskik raak.

Moet nie die fout maak om te dink dat jy nooit só ongeskik sal raak dat jy nie kan werk nie.

Die boedelbeplanning moet ’n ontleding insluit wat onder meer aspekte soos boedelbelasting en die aanwasbedeling aanspreek.

Indien boedelbelasting betaalbaar gaan wees, is die vraag of daar ’n wettige manier is om dit te verminder. Dieselfde geld vir kapitaalwinsbelasting.

As jy buite gemeenskap van goedere met die aanwasbedeling getroud is, moet jy seker maak dat jy weet hoe dit jou boedel gaan raak.

Dit is belangrik dat daar genoeg kontant in jou boedel is om boedelkostes (soos meesters- en eksekuteursfooie asook boedel- en kapitaalwinsbelasting), skuld en kontantbemakings kragtens jou testament te kan betaal.

Behalwe dat ’n gebrek aan kontant die afhandeling van ’n boedel kan vertraag, kan dit veroorsaak dat sekere boedelbates verkoop moet word om dit af te handel.

Dit bring ons weereens by polisse. As daar nie voldoende kontant in die boedel is nie, is lewensversekering die metode om hierdie behoefte aan te spreek.

Die ander belangrike aspek by boedelbeplanning is ongetwyfeld jou testament. Maak seker dat jy ’n geldige een het en dat dit eenvoudig en prakties uitvoerbaar is.

Dit is natuurlik baie makliker om ’n sinvolle testament op te stel as jy ’n boedelontleding gedoen het. Immers gaan jy dan weet wat jy kan bemaak!

En, laastens, moet nie die mediese aspek vergeet nie. Mediese onkoste kan ’n persoon of familie finansieël ruïneer en daarom is dit noodsaaklik dat jy oor ’n mediese fonds beskik wat jou behoeftes die beste pas.