Ons het al almal mense gehoor kla dat hulle elke maand hul premies betaal, maar dat die versekeraar nie wil uitbetaal wanneer dit by eis kom nie, skryf Pieter Willem Moolman, stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth.
Hoewel dit bekend klink, het jare se ondervinding my geleer versekeraars betaal wel eise volgens kontrak uit.
Dis hoofsaaklik wanneer kontrakvoorwaardes nie nagekom word nie wat eise gerepudieer word en uitbetalings nie plaasvind nie.
Dis ook so dat “grys eise” somtyds voorkom. Dit verwys na eise wat nie noodwendig duidelik en maklik identifiseerbaar is nie en hier speel die makelaar ‘n belangrike rol in die onderhandelingsproses.
Ek dink dis belangrik om vandag oor ‘n paar moets en moenies te praat – die goed wat elkeen met korttermynversekering behoort te weet.
Een van die belangrikste aspekte is om seker te maak jou maandelikse premies word betaal.
Dit gebeur veral in twee gevalle dat dit agterweë bly: onvoldoende fondse of as ‘n versekerde van bank verander en nie die debietorder aanpas nie.
Die algemene beginsel in hierdie verband is dat onbetaalde versekering na onbetaalde eise lei.
Die onus lê ook by die versekerde om seker te maak die versekerde bedrae is voldoende. Onthou, dit sluit die woonhuis, inhoud van die woonhuis asook die voertuie in.
Die ideaal is om ‘n waardasie te laat doen. In die praktyk is die versekerde waarde van die inhoud van die woonhuis dikwels ‘n probleem.
‘n Nuttige wenk aan lesers is om ‘n volledige inventaris van jou huisinhoud te laat optrek. Die skattings wat normaalweg gedoen word, is nie akkuraat genoeg nie.
So ‘n inventaris sal ook help om die eis ten tyde van ‘n totale verlies te bewys. Finansiële beplanners soos ons sal met graagte ‘n formaat vir ‘n inventaris verskaf.
Omdat eise rondom diefstal en inbrake besig is om toe te neem, is sekuriteitsmaatreëls vir versekeraars nou ‘n groter prioriteit.
Maak seker jou maatreëls strook met dit wat deur die versekeraar verlang word. Dit is nie fynskrif nie en word duidelik uitgespel.
Nog ‘n wenk is om seker te maak jou alarm is geaktiveer wanneer niemand tuis is nie. Indien nie, verwag probleme met jou eis.
Die risiko-adres en gereelde bestuurders van motors is die laaste aspek wat ek nou wil aanraak. Dié probleem kom veral voor wanneer kinders die huis verlaat.
Maak seker jou kind is as gereelde bestuurder op die polis genoteer en dat die risiko-adres (waar die motor normaalweg oornag) korrek is.
Die moets en moenies is legio – maar volgende slag meer daaroor.