Onstuimige ekonomiese tye veroorsaak onsekerheid wat op verskeie terreine tot verkeerde besluite aanleiding gee, skryf Pieter Willem Moolman, stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth.
Beleggers kom te midde van onvoorspelbare skommelinge voor moeilike keuses te staan. Hulle vrees hulle gaan weens dié omstandighede hul swaar verdiende geld verloor.
Die moontlikheid van kapitaalverlies laat beleggers twyfel. Daarby is party van hulle blykbaar onbewus van die risiko’s wat besluite oor hul aftrede inhou.
Een van die gevare is dat baie mense nie genoeg vir hul aftrede spaar nie. Die uiteinde is dat die meeste afgetredenes se maandelikse inkomste nie in hul behoeftes voorsien nie.
Emosie kan veroorsaak dat goeie beleggingspraktyke oor die hoof gesien word. In tye van onsekerheid tree party beleggers irrasioneel op en verloor hulle hul finansiële langtermyndoelwitte uit die oog.
Hulle laat toe dat onlangse verwikkelinge hul besluitneming beïnvloed en dit gee aanleiding tot ‘n verlies aan fokus ten opsigte van korttermynbeleggings.
Beleggers is geneig om die risiko van kapitaalverlies as ‘n onmiddellike bedreiging vir hul spaargeld te ervaar en voorsien ‘n scenario wat, realisties gesproke, vandag kan ontstaan.
In hul poging om dié bedreiging te minimaliseer, tree hulle te konserwatief op wanneer hulle beleggingsbesluite neem. Die besef dat hulle te min geld gespaar het, sal hulle moontlik eers tref wanneer hulle die dag aftree.
Daardie moontlikheid is ongelukkig iets wat dikwels nie as ‘n onmiddellike bedreiging beskou word nie en veroorsaak dat mense hul fokus op hul aftreevereistes verloor.
Finansiële tussengangers het dus ‘n uiters belangrike taak om hul kliënte teen leemtes in hul beleggingskennis te beskerm en hulle te help om hul fokus op hul langtermyndoelwitte vir aftrede te behou.