In vandag se rubriek praat ons so bietjie oor die belangrikheid van bekendmaking. Skryf Pieter Willem Moolman, stigter van PWM Finansiële Bestuur in Port Elizabeth.

Finansiële dienste word deesdae streng gereguleer deur verskeie stukke wetgewing, waarvan die belangrikste die Finansiële Advies- en Tussengangerdienste (Fais) en Wet op die Finansiële Intelligensiesentrum (Fica) is.

Deel van hierdie verpligting wat op finansiële adviseurs rus is om kliënte bewus te maak van die belangrikheid van volledige bekendmaking en moontlike gevolge indien dit nie gedoen word nie.

Dit is van uiterste belang om te verseker dat jy soveel inligting as moontlik bekend maak wanneer jy vir ’n versekeringsproduk aansoek doen. Nie net moet daarop gelet word om nie vals inligting te verskaf nie, maar ook om nie sekere belangrike inligting te verswyg nie.

Wat vir ’n leek onbelangrik mag voorkom, kan moontlik ’n wesenlike verskil in die onderskrywing van die risiko maak. So, byvoorbeeld, kan ’n persoon se roker-status, moontlike geestesgesondheidstoestande of die feit dat hy of sy in die verlede vir ongelukskade geëis het, ’n verskil maak.

Dit is ook belangrik om daarop te let dat dit soms verskil van maatskappy tot maatskappy. So rus daar byvoorbeeld ’n verpligting op ’n kliënt om by sekere versekeringsmaatskappye kennis te gee wanneer sy of haar roker-status verander, terwyl dit by ander maatskappye nie ’n verskil maak nie.

Vergewis jouself dus deeglik van jou spesifieke versekeraar se vereistes ten opsigte van faktore wat die risiko mag beïnvloed ná die kontrak in plek gestel is.

Indien alle inligting nie bekend gemaak word nie, kan dit daartoe lei dat die versekeringsmaatskappy ’n laer bedrag by eise-stadium uitbetaal of selfs weier om uit te betaal.

Dit is dus wys om soveel inligting as moontlik te verskaf wanneer ’n versekeringskontrak gesluit word en die onus is op jou om seker te maak dat jou finansiële adviseur deeglike aantekeninge daarvan in die aansoekvorm maak en dit so aan die versekeringsmaatskappy deurgee.

Wanneer jy jou kontrak ontvang, lees dit noukeuring deur om seker te maak die versekeringsmaatskappy het alle toepaslike faktore in ag geneem om die risiko waarvoor dekking gebied word, akkuraat te onderskryf.