Niemand wil snags wakker lê en hulself bekommer dat die waarde van hul beleggings binne dae met tot 40 persent kan daal nie, skryf Pieter Willem Moolman, stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth.

Hoewel beleggers senuweeagtig raak wanneer hulle onsekerheid in markte bespeur, is dit, soos ons die afgelope tyd gesien het, onafwendbaar.

Een van die oorsake is veranderlikhede. Die onlangse aanwysing van Cyril Ramaphosa as president van die ANC het byvoorbeeld, nog voordat hy tot staatspresident verkies is, ‘n gunstiger beleggingsklimaat in Suid-Afrika veroorsaak.

Die rand het teen alle verwagting binne ‘n kort rukkie met omtrent 13 persent verstewig. Dit het party mense senuweeagtig oor buitelandse beleggings gemaak.

Daarby het die Steinhoffsage party portefeuljebestuurders en individuele kliënte onklaar betrap.

En net toe die stof effens gaan lê, reik Viceroy ‘n verslag uit waarin Capitec onder skoot kom. Toe daal Bitcoin se prys ook nog.

Sulke gebeurtenisse maak beleggers onrustig. Party begin selfs wonder of hulle nie eerder hul geld in kontant moet hou nie.

Dit is die grootste fout wat hulle kan begaan. Baie beleggers besef nie hoe vernietigend inflasie, soos in Januarie in ‘n artikel in Rapport beklemtoon is, kan wees nie.

Volgens die Sondagblad sal, teen ‘n inflasiekoers van ses persent, vandag se R10 000 oor 20 jaar net R3 118 werd wees.

Daarom moet daar in reële terme oor ‘n lang termyn na beleggingsopbrengste gekyk word om te verseker dat die uitwerking van inflasie hokgeslaan word.

Kontant verhoog nie jou reële welvaart nie. Volgens gegewens in die Rapport-artikel het kontant oor ‘n tydperk van 92 jaar ‘n opbrengs van net 0.7 persent per jaar gelewer as inflasie in aanmerking geneem word.

Dit is dus beter om aandele in die bank te hê.

Party beleggers verkies egter steeds kontant omdat hulle bang is hulle verloor geld in aandele. Die beste manier om dié risiko te verminder, is om jou aandele vir ‘n langer tydperk te hou.

Historiese gegewens toon dat mense nié geld verloor as hulle hul aandele vir langer as drie jaar hou nie.

Die moontlikheid dat die waaarde van ‘n aandele-belegging oor ‘n tydperk van een maand sal verminder, is 30 persent. Maar as jy jou aandele drie jaar lank hou, daal dié moontlikheid tot ses persent ‒ en ná vyf jaar tot nul.

Dit is dus raadsaam om so vroeg moontlik te begin belê en die aandele te behou vir so lank as jy kan. En kies altyd die herbelê-opsie sodat alle opbrengste teruggeploeg word en jy sodoende “groei op groei” verdien.