Vandag wil ek so bietjie praat oor die belangrikheid van sake-kontrakte en hoekom die Engelse spreekwoord, Prevention is better than cure, baie gepas kan wees, skryf Pieter Willem Moolman, stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth.
Indien ondernemings as regsentiteite bestuur word, is dit belangrik om seker te maak die nodige kontrakte is in plek en dat aandeelhouers en lede deeglik van die inhoud bewus is.
Ek verwys nou spesifiek na dokumente soos die akte van oprigting, aandeelhouersooreenkoms, lede-ooreenkoms en so aan.
‘n Akte van oprigting is ‘n openbare dokument wat redelik standaard en verpligtend is wanneer ‘n nuwe maatskappy begin word en dus gaan ek dit nie hier in detail bespreek nie.
Ek wil wel oor die belangrikheid van ‘n aandeelhouersooreenkoms in die geval van privaat maatskappye en lede-ooreenkoms by beslote korporasies praat.
Dié ooreenkomste het ten doel om aandeelhouers te beskerm en alle reëlings uiteen te sit om te verseker dat die onderneming oor die langtermyn sinvol bestuur word.
Dit hanteer aspekte soos wat gebeur indien ‘n aandeelhouer sterf, wanneer aandeelhouers moet aftree en wat by aftrede met hulle gebeur.
Dié dokumente bevat ook inligting oor hoe die maatskappy se waarde bepaal word, die dividendbeleid asook stemreg en vergoeding van direkteure.
Punte soos geforseerde verkope, leningsrekenings, koop-en-verkoop-ooreenkomste, die verkoop van aandeelhouding, arbitrasie, beperkings op verkoop en die dag-tot-dag bestuur is ook gewoonlik ingesluit.
Die werklikheid van sulke ooreenkomse is dat dit jou geld gaan kos om in plek te kry en jy gaan waarskynlik dink jy het jou geld gemors, dit wegsluit en nooit gebruik nie.
Maar die dag as iets onwaarskynliks of ongewoons gebeur, gaan jy baie dankbaar wees. Kry dus die nodige ooreenkomste in plek – vir jou eie beswil.