’n Kliënt se dogter se motor is onlangs in Kaapstad gesteel en ons moes hard spook om dit betaal te kry.

Hy het wel sy dogter se motor by sy polis gevoeg en die versekeraar het die risiko aanvaar. So wat het fout gegaan?

Dit het aan die lig gekom dat die kliënt se risiko-adres Gqeberha is en nie Kaapstad nie. In hierdie geval sou die premie vir die Moederstad hoër gewees het en het hy dus in effek nie die korrekte bedrag betaal nie.

Verder het sy dogter reeds graad gevang, begin werk en die motor was in haar naam en afbetaal.

Die versekerbare belang tussen haar en haar pa het dus in die gedrang gekom. Dit sou ’n ander saak gewees het indien hy self die motor betaal het.

Die registrasiepapiere het ook spoorloos verdwyn en daarsonder kan versekeraars min doen indien ’n motor gesteel word of afgeskryf moet word.

’n Duplikaat is natuurlik ’n oplossing, maar dit kan soveel as ses maande neem om jou hande daarop te lê.

Wat eintlik in hierdie geval moes gebeur het was dat die verandering in die risiko-adres dadelik aan die versekeraar deurgegee moes word asook die feit dat sy afgestudeer was.

Indien enigiets verseker word waar daar nie ’n versekerbare belang is nie moet die versekerde uitgebrei word om sodanige persoon in te sluit.

Dit gaan als oor die openbaarmaking van inligting wat die risiko kan beïnvloed en die feit dat die wet bepaal dat alle wesenlike feite openbaar gemaak moet word. As jy twyfel, maak eerder die inligting bekend.

Jy kan jouself baie ergernis spaar deur jou kind se nuwe risiko-adres te verklaar asook wie die gereelde bestuurder van jou motor is.

En, wanneer jy trek, laat die versekeraar dadelik weet. Ook indien jy waardevolle skilderye het.

Ander goed om met jou versekeraar te deel is die sekuriteitsmaatreëls wat geld by jou huis en ten opsigte van jou voertuig, of jy ’n grasdak-lapa aangebou het en of jou voertuig vir besigheidsdoeleindes gebruik word.

Die kwessie van wesenlike feite openbaar is van toepassing op korttermyn- en lewensversekering.