‘n Leser wil weet of dit moontlik is om ‘n testament te wysig indien al die erfgename saamstem, skryf Pieter Willem Moolman, stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth.

Ons weet almal die verdeling van bates uit ‘n boedel kan problematies wees en dat baie families mekaar al in die hof gepak het.

Rusies kan natuurlik tot vertragings in die afhandeling van die boedel lei, maar dit kan voorkom word as die erfgename onderling ooreenkom of ‘n herverdelingsooreenkoms sluit. So kan baie van die probleme op ‘n informele wyse opgelos word.

Om ‘n suiwer regstegniese voorbeeld te gebruik, kan ons na ‘n man kyk wat sy boedel in gelyke dele aan vier meerderjarige en bevoegde persone bemaak. Sy netto-boedel bestaan uit ‘n woonhuis, meubels, vuurwapen, motor, aandele, effektetrusts en kontant.

Elkeen van die erfgename het dus ‘n kwart onverdeelde aandeel in elkeen van hierdie bates. Met die oordrag van die woonhuis, aandele en effektetrusts, asook met die verdeling van die kontant, behoort daar nie probleme te wees nie.

Daar kan egter praktiese probleme met die verdeling van die voertuig, die vuurwapen en meubels ontstaan. Elkeen kan tog nie ‘n stukkie van die motor of ‘n stoel van die eetkamerstel gryp nie.

Soms is die verdeling van sekere bates ook net nie moontlik nie, of dit is volgens bepaalde wette en regulasies onverdeelbaar, soos byvoorbeeld landbougrond. In sulke gevalle kan die eksekuteur van die boedel genoodsaak wees om die moeilik verdeelbare bates te realiseer indien geen ooreenkoms bereik word nie.

Samewerking en onderlinge ooreenkoms tussen erfgename kan dus ‘n baie belangrike rol in die bereddering van ‘n boedel speel en hul besluite oor die herverdeling van bates moet op skrif gestel word.

Daarmee word die eksekuteur gemagtig om die bates te verdeel en aan elkeen die deel te oorhandig wat hy of sy graag sou wou ontvang.

Die herverdelingsooreenkoms moet aan sekere vereistes voldoen. Slegs die begunstigdes wat ‘n belang by die herverdeling het en die eksekuteur is partye tot die ooreenkoms.

Waar die oorledene binne gemeenskap van goedere getroud was, kan die halwe, onverdeelde aandeel van die gemeenskaplike boedel wat aan die nagelate gade behoort by die ooreenkoms ingesluit word, mits die gade ook ‘n party tot die ooreenkoms is – selfs al is hy of sy nie ‘n erfgenaam nie.

As minderjariges betrokke is, moet hul voogde namens hulle ‘n party tot die ooreenkoms wees en is daar bykomende vereistes waaraan voldoen moet word.

Alle getekende herverdelingsooreenkomste is onderhewig aan die Meester van die Hooggeregshof se goedkeuring tydens die nasiening van die likwidasierekening.

Bogenoemde behoort plan B te wees. Plan A is om seker te maak ‘n herverdelings-ooreenkoms is nie nodig nie.

Vra vir jou finansiële beplanner om jou te help om ‘n behoorlike boedelplan en eenvoudig dog prakties uitvoerbare testament op te stel.