Ek wil vandeesweek ’n lesers vraag oor die beskerming wat ’n trust tydens insolvensie bied, behandel.

Om insolvent verklaar te word, is die gevolg van ’n situasie waar jou laste jou bates oorskry.

Jy kan ’n vrywillige oorgawe bewerkstellig of jou krediteure kan aansoek doen om jou insolvent te laat verklaar. Hoe dit ookal sy, die gevolge is ingrypend.

Die vraag is of die behoorlike gebruik van ’n trust kan help om sommige bates te beskerm.

Die antwoord is “ja”, mits bates betyds na ’n trust oorgedra word. Indien jy reeds insolvensie in die gesig staar, is ek bevrees dat dit reeds te laat is.

Indien die bates reeds ’n geruime tyd in ’n trust is, waarborg dit nie beskerming nie. Die optrede van trustees en ’n gebrek aan volledige administrasie kan probleme veroorsaak.

Maak dus seker dat die trustakte-vereistes in plek is.

Wetgewing maak voorsiening vir die likwidasie van insolvente boedels om transaksies wat aangegaan is met die bedoeling om krediteure te benadeel, ter syde te stel.

In wese is daar slegs twee transaksies wat uitgevoer kan word: bates kan verkoop of geskenk word aan ’n trust. Op ’n latere stadium sal ons die voordele om bates aan ’n trust te laat vererf in oënskou neem.

Die skenking van bates aan ’n trust sal aanleiding gee tot geskenkebelasting, wat tans 20 persent van die waarde van die skenking bo R100 000 per jaar is.

Dit kan dus ’n duur transaksie wees, maar die voordele van beskerming en die vermindering van die waarde van jou boedel met betrekking tot moontlike boedelbelastingimplikasies, moet behoorlik opgeweeg word.

Groeibates kan ook aan ’n trust verkoop word. Aangesien die trust nie oor die nodige geld sal beskik om die bates te betaal nie, sal die koopprys uitstaande bly.

Daar sal dus ’n leningsrekening ten bedrae van die koopprys ten gunste van die verkoper wees. Die lening is gewoonlik op aanvraag betaalbaar.

Rente kan op die leningsrekening bereken word, maar gewoonlik dring die verkoper nie daarop aan nie aangesien sy boedel jaarliks met die geakkumuleerde rente sal groei en die doel waarvoor die bates in die eerste plek verkoop is – om groei vas te pen – verydel.

Bates moet teen markwaarde verkoop word, anders kan aanspreeklikheid vir geskenkebelasting ontstaan op grond daarvan dat dit vir ’n ontoereikende prestasie verkoop is.

Bogenoemde bring dus weer die belangrikheid van boedelbeplanning na vore. Dit behels nie net die vermindering van boedelbelasting nie, maar ook die identifisering van besigheids- en aanspreeklikheidsrisiko’s.

Die gebruik van verskeie strukture, waaronder trusts, is belangrik om sodanige risiko’s te probeer isoleer.

Moet nie wag tot insolvensie onafwendbaar is alvorens jy jou trust-sake op datum bring nie. Dieselfde geld vir egskeidings.