Beleggingsmarkte het die afgelope drie jaar ‘n behoorlike loesing gekry en baie van ons voel met goeie reg onseker, skryf Pieter Willem Moolman, stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth.
Ek wil nie baie tegnies hieroor raak nie, maar eerder ‘n paar gedagtes met dié van julle deel wat wil weet waarheen nou.
Daar lê natuurlik nog ‘n verkiesing ook voor wat verdere onsekerhede veroorsaak en na nog stres en moedeloosheid kan lei.
Dit is mos nie lekker om daagliks te hoor hoe sleg die ekonomie is en te sien hoe jou belegging kwyn nie. Ek dink baie van ons wil weghardloop, maar waarheen?
Die realiteit is dat ons geen ander heenkome het nie. Mens kan net positief probeer bly en die beste van ‘n slegte saak maak.
Die eerste reaksie van baie beleggers is om paniekerig te raak en hul beleggings in te cash sodat hulle meer sekerheid van hul opbrengs het. Dit kan ‘n flater wees aangesien die inflasierisiko oor die langtermyn die koopkrag van jou geld verwoes.
Kyk maar na die prys van brood wat tussen 1990 en 2016 van R1.12 na R10.20 gestyg het.
Die geheim is ‘n gediversifiseerde portefeulje waar jou belegging tussen verskillende bateklasse versprei word, maar daar is nie ‘n vaste resep nie.
Die bate-allokasie hang van verskeie faktore af soos risikoprofiel (jou aptyt vir risiko), ouderdom asook hoeveel likiditeit en inkomste jy benodig. ‘n Goeie finansiële adviseur kan jou maklik hiermee help.
Bate-allokasie is dus belangrik en kan gedefinieer word as die verdeling van kapitaal tussen verskillende bateklasse in ‘n poging om die beste opbrengs teen ‘n bepaalde risikovlak te verkry.
Ek kry ook nogal baie vrae oor die meriete van buitelandse beleggings en of dit deel van elke portefeulje moet wees. Daar is weereens nie ‘n bloudruk nie, maar ek sal ongemaklik voel om al my geld in Suid-Afrika, wat slegs 0.5% van die wêreld se ekonomie uitmaak, te hê.
Die sentiment van die meeste batebestuurders is dat, indien die geskiedenis homself gaan herhaal, die toekoms beter prestasies behoort te lewer. Geduld sal dus in jou guns tel.