‘n Leser wat as die enigste eksekuteur van haar man se boedel aangestel is wil weet of dit normale praktyk is, skryf Pieter Willem Moolman, stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth.

Dit is R10-miljoen werd en sy is bekommerd sy is nie opgewasse om dit alleen te hanteer nie.

Ek moet ongelukkig saamstem. Vir haar lê daar ‘n moeilike tyd voor, hoofsaaklik omdat sy nie die nodige ervaring in die bereddering van boedels het nie.

Verder wil niemand met sulke verantwoordelikhede opgesaal wees terwyl hulle rou nie. Uit persoonlike ondervinding weet ek dat irrasionele besluite dikwels geneem word waar emosie ter sprake is.

Na aanleiding van haar vraag, het ek dit goed gedink om oor testamente en die bereddering van bestorwe boedels uit te wei.

Die gemiddelde persoon spandeer hopeloos te min tyd aan hul testament en sinvolle boedelbeplanning. En ek wil my verstout om te sê baie weet nie eens waar hul testament is nie.

Alvorens jy joune opstel, maak seker dat ‘n volledige boedelbeplanning gedoen word. Dit sal vir jou ‘n indikasie gee of jou wense tot uitvoering gebring kan word.

Belangrike aspekte sluit in of daar genoeg kontant is om die beredderingsproses sinvol af te handel, of daar voldoende voorsiening vir jou afhanklikes is, wat die boedelbelasting gaan beloop en of kapitaalwinsbelasting betaalbaar sal wees.

Sodra die boedelbeplanning afgehandel is, kan ‘n eenvoudige en prakties uitvoerbare testament opgestel word.

In die eerste plek moet jy seker maak dat jy die regte eksekuteurs aanstel. My raad is om iemand na aan jou, soos jou vrou, asook ‘n kundige, soos jou rekenmeester, te benoem.

Omdat hulle nie noodwendig die kennis het om die boedel te beredder nie, moet die mag van assumpsie ingebou word. Dit beteken hulle kan ‘n agent aanstel om die boedel namens hulle te beredder.

Die bemaking van die boedelbates moet in ooreenstemming met die boedelbeplanning geskied.

Maak byvoorbeeld gebruik van Artikel 4A-korting, wat beteken sowat R7-miljoen is van boedelbelasting gevrywaar indien jy getroud is en R3.5-miljoen indien jy enkel is.

Doen jou bemakings so prakties en eenvoudig moontlik. Mense wat uit die graf uit wil regeer, plaas net onnodige druk op erfgename.

Moet sover moontlik nie enige besluite in die hande van erfgename laat nie, want dis ‘n resep vir ‘n familietwis.

Maak seker dat daar voldoende voorsiening vir jou wederhelf is, bly weg van vruggebruik en benoem voogde as jy minderjarige kinders het.

Moenie vaste eiendom aan meer as een persoon vererf nie. Bemaak dit eerder na ‘n inter vivos-trust met die erfgename as begunstigdes.

Om intestaat – met ander woorde sonder ‘n testament – te sterf, is ‘n groot gemors. Maak dus seker jy het ‘n geldige een en dat jy en jou kundige vertroueling oorspronklike kopieë het.

Onthou, ‘n testament is ‘n lewende dokument, so pas dit jaarliks aan.