Hoewel almal se paadjies verskil, is die kanse bitter goed dat jy gekom het waar jy vandag is ná jare se opvoeding, opleiding, beplanning en harde werk, skryf Pieter Willem Moolman, stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth

Die paradoks van die lewe is egter dat alledaagse dinge soos ‘n ongeluk, gevreesde siekte of die dood jou lewe in ‘n oogwink kan verander.

Die vraag is of jy bereid is om met dié risiko’s te dobbel en maar vir die beste hoop of eerder vir die ergste voorsiening maak. Indien jy braaf en planloos is, is die dilemma dat sulke gebeurlikhede ‘n invloed op die mense om jou kan hê.

Elke lid van jou gesin – of jou werknemers indien jy ‘n sake-eienaar is – kan in die spervuur beland en jy het dus myns insiens ‘n verantwoordelikheid teenoor jouself en die mense wat op jou staatmaak om vooruit te dink.

Dis ‘n feit dat die lewe met onsekerhede gevul is en daarom is dit broodnodig dat jy risikodekking het. Die belangrikste hiervan is vir ontydige dood, ongeskiktheid, gevreesde siektes en ander kwale wat jou inkomste kan beïnvloed.

Die doel van boedelbeplanning is om seker te maak jou afhanklikes is finansieel onafhanklik by ontydige dood en daarom moet jou lewensdekking in plek en voldoende wees.

Daarteenoor verseker ongeskiktheidsdekking dat jou en jou afhanklikes se lewenskostes gedek sal wees indien iets met jou sou gebeur wat daartoe lei dat jy nie verder kan werk nie.

Gevreesde siektes kan ‘n moontlike verandering in lewenstyl meebring en ook jou lewensverwagting verkort. Die korrekte dekking hier sal verseker dat jy nie in hierdie emosionele tyd finansieel onder druk kom nie.

‘n Verlies aan inkomste kan vir die broodwinner finansieel katastrofies wees. Siektedekking, of ‘n inkomstebeskermer, vervang jou inkomste en help dat jy en jou gesin jul lewensstandaard kan handhaaf.

Die kans is goed dat jy uitgevang gaan word indien jy met jou risikodekking dobbel. Maak dus seker joune is in plek en dat dit gereeld hersien word om by veranderende behoeftes te pas.