Daar is ‘n groot verskil tussen “polissmouse” en bekwame finansiële beplanners, skryf Pieter Willem Moolman, stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth.

Ons ken almal die eerste soort en vir die meerderheid van ons is hulle net ‘n ergernis. Sonder die hulp van ‘n erkende finansiële adviseur sal min mense hul geldsake behoorlik kan orden.

Dit is wel waar dat sulke smouse die bedryf se naam skaad, maar elke bedryf het sy minder goeie diensverskaffers.

Mens kom egter gou agter op wie mens kan peiltrek en so loop die minder goeies gewoonlik vinnig hul rieme styf.

Almal wat hul geldsake beplan, behoort ten eerste seker te maak dat hul afhanklikes finansieel onafhanklik sal wees as die broodwinner onverwags sterf.

‘n Mens hoor dikwels van mense wat finansieel swak nagelaat is en daarom is voldoende lewensdekking belangrik, maar die vraag is hoeveel.

Daar is nie ‘n eenvoudige antwoord nie en diegene wat op hul gevoel staatmaak, slaan gewoonlik die bal ver mis.

Om jou geldsake agtermekaar te kry, het jy ‘n finansiële beplanner nodig om deeglike boedelbeplanning te doen en so die behoefte aan lewensversekering te bepaal.

Jou versekering moet natuurlik genoeg wees om jou boedel sinvol te kan beredder, wat eksekuteursgeld, kapitaalwins en boedelbelasting insluit.

Die behoefte aan lewensversekering neem partykeer af namate mense ouer word, hul bates toeneem en die kinders selfversorgend raak.

Ek het onlangs ‘n man met ‘n vrou en drie minderjarige kinders gehelp wat gereken het dekking van R2-miljoen is genoeg. Indien hy iets moes oorkom, sou sy afhanklikes egter beslis harde klippe gekou het.

Liggaamlike of geestelike ongeskiktheid kan eweneens ‘n gesin finansieel ruïneer; dikwels in ‘n groter mate as die dood. Ondervinding het my geleer dat voorsiening vir ongeskiktheid en trauma gewoonlik nie na wense is nie.

Min mense dink ooit daaraan dat hulle op die een of ander manier ongeskik kan raak. Myns insiens behoort finansiële beplanners dié aspek te beklemtoon, veral wanneer hulle jonger mense met raad bystaan.

Lewensdekking word dikwels oorbeklemtoon en gewoonlik ten koste van ongeskiktheidsdekking.

Ook in dié opsig speel finansiële beplanners ‘n belangrike rol: hulle moet seker maak jou inkomste is ten volle beskerm as jy tydelik ongeskik of ernstig siek raak.

Dis nie iets wat jy oor ‘n toonbank kan koop nie en dié soort beskerming is veral nodig vir professionele mense en diegene met hul eie ondernemings.

‘n Finansiële beplanner wat sy sout werd is, sal jou verder ook met aftreevoorsiening bystaan.

Dis uiters belangrik aangesien net drie uit elke honderd in ons land finansieel onafhanklik kan aftree – gewoonlik omdat hulle te min spaar en te laat begin.