Finansieel gesproke, is die mikpunt van ‘n egskeiding om te verseker dat beide partye hul lewens onafhanklik kan voortsit en herbou, skryf Pieter Willem Moolman, stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth.
Dis belangrik om nie oorhaastig op te tree om die proses, wat normaalweg baie emosioneel is, agter die rug te kry nie.
Verkeerde besluite kan geweldige finansiële implikasies hê en daarom is dit belangrik dat die man én vrou finansiële en regsadvies inwin alvorens verkeerde en emosionele besluite geneem word.
‘n Ervare finansiële adviseur sal kan bepaal hoeveel geld nodig is om iemand se finansiële sekuriteit te verseker en sodoende ‘n “skoon breek” te bewerkstellig.
Dis natuurlik belangrik dat jy die implikasies van jou huweliksbedeling begryp. Huwelike buite gemeenskap van goedere met die aanwasbedeling word baie keer misverstaan.
Win advies in as jy nie seker is nie, want dit vorm die grondslag van jou egskeiding.
Wanneer jy besluit om te skei, is dit raadsaam om ‘n lys met riglyne op te stel wat jy sistematies kan volg.
Die opstel van ‘n gedetailleerde begroting van jou maandelikse uitgawes is ‘n goeie begin en onthou om jaarlikse en toekomstige uitgawes in te sluit.
‘n Aanbeveling is om ‘n versekeringspolis op die gewese gade se lewe uit te neem om enige onderhoudsgeld te beveilig indien hy of sy ongeskik sou raak of sterf.
Hersien dringend jou testament en polisse ná die egskeiding. Onthou, ‘n egskeiding kanselleer nie die benoeming van ‘n geskeide gade nie.
Stel jou werkgewer en fondse soos jou medies en pensioen van die egskeiding in kennis en onthou om korttermynversekeringspolisse en debietorders aan te pas. Verander ook jou persoonlike besonderhede by diensverskaffers soos die munisipaliteit.
Daarby moet onthou word dat ‘n mens op rehabilitasie-onderhoud geregtig kan wees en dit kan moontlik die koste om weer ‘n woonplek te kry, insluit.
‘n Vrou wat weer haar nooiensvan aanneem, het die bykomende verpligting om dit oral aan te meld.
Egskeiding is, finansieel en emosioneel, ‘n drastiese en traumatiese stap en ek raai aan jy sit genoeg tyd opsy om die proses en implikasies te begryp.
Probeer om sinvol en realisties te dink – veral as kinders ter sprake is. Laasgenoemde word dikwels gebruik om ‘n sekere doelwit te bereik.