Deesdae kan ons weer die pad vat om dinge te doen soos om Namakwaland se blomme te gaan kyk of elders vir vriende en familie te gaan kuier.
Die brandstof is peperduur, maar die inperkings het ons opnuut bewus gemaak van hoe bevrydend dit is om ’n blaaskans te geniet.
Die motor word gediens en ons vind uit waar die slegte paaie en slaggate is. Ons tref hordes voorsorgmaatreëls en ander beplanning word tot in die fynste besonderhede gedoen.
Tog is dit maar in ons agterkop dat ’n ongeluk of meganiese probleem ons langs die pad kan laat strand.
Die eerste ding wat ons gewoonlik aan dink is om ’n familielid te bel, maar as jy reg verseker is, sal jou versekeraar jou natuurlik met insleepreëlings en sommige ander kostes kan bystaan. ‘sommige ander onkostes’
Indien jou motor omvattend verseker is en jy in ’n ongeluk beland, het jy outomaties die ondersteuning van die versekeraar aangesien dit ’n versekerde risiko is en die insleep en herstel van jou voertuig by jou dekking ingesluit is.
Jy moet net weet aan wie om dit te rapporteer sodat jou versekeraar reëlings kan tref om te help. Maak seker wat daardie telefoonnommer is en stoor dit op jou selfoon!
Indien jy ondersteuning nodig het wanneer jou voertuig meganies onklaar geraak het, is dit ’n bietjie van ’n ander storie.
Dit is nie ’n versekerde risiko nie en vir hulp en bystand in so ’n geval moet jy padbystanddekking as ’n opsionele ekstra hê. Dit kos sowat R50 per maand.
Maak ook seker dat jy presies weet watter voordele jy kan verwag as jy langs die pad sou gaan staan.
Die meeste versekeraars het ’n Padbystand-brosjure waarin al die voordele opgesom is en wat ook die telefoonnommer spesifiseer wat jy moet bel. Stoor dit óók op jou selfoon!
By sommige versekeraars is die noodnommer vir ’n ongeluk en padbystand dieselfde. Maak seker dat jy die regte nommer het en verstaan hoe dit werk.
Wanneer jy die noodnommer bel, moet jy die versekerde se ID- of polisnommer verskaf en kan sê waar jy gestrand is.
Indien jy nie ’n selfoonsein het nie, kan duimgooi dalk jou voorland wees. As jy dus iemand is wat dikwels in die Wilde Weste ingaan, is dit raadsaam om ’n satellietfoon te huur of te koop en saam te vat.
Dis duur maar kan ’n lewe red as daar mediese ongevalle is. Die satellietfoon kan byvoorbeeld jou koördinate per SMS stuur.
’n Professionele makelaar sal alle nodige inligting kan verskaf.