Geen mens is opgewasse teen die ekonomie wat druk en die negatiewe nuus waarmee ons daagliks geboelie word nie.

Dít lei tot paniek en oorhaastige besluite wat ons later nogmaals straf.

Om jou kontantvloei te verbeter, kan jy natuurlik jou inkomste verhoog óf jou uitgawes beperk. Dit verg harde werk om dit te verhoog en daarom is laasgenoemde gewoonlik die makliker opsie.

Een manier om dit te doen is om jou versekering te laat verval of af te koop. Hierdie kan tragiese gevolge hê en moet nooit sonder die insae van jou finansiële adviseur gedoen word nie!

Lewensdekking is besonder maklik om vir ’n wyle te staak – juis omdat dit nie tasbaar is nie en soos ’n sondebelasting kan voel wanneer dinge begin knyp.

Jy is gesond en die plan is om later weer ’n polis uit te neem, maar wie sê jy gaan dieselfde dekking kry en teen watter prys? Jou gesondheid kry ook dalk intussen ’n knou en dan sit jy met onvoldoende dekking wat jou en jou naasbestaandes kwesbaar laat.

Dit is soms sinvol om jou portefeulje te hersien sodat jou raadgewer besparings kan probeer bewerkstellig. Dit is egter daardie persoon se professionale plig om seker te maak die risiko’s is behoorlik verskans.

Mens kan bydraes op ’n uittree-annuïteit tydelik staak, maar dit raak moeilik om te hervat as jy eers aan die ekstra maandelikste geldjie gewoond geraak het. Om jou spaarplan te onderbreek, is basies om agteruit te boer.

Dit is natuurlik ook maklik om goedkoper korttermynversekering na te jaag. Sommige versekeraars buit juis die situasie uit deur aanbiedinge te maak wat aantreklik klink, maar nie noodwendig is nie.

’n Tipiese voorbeeld is motorversekering. Jy spaar dalk ’n paar rand op jou maandelikse premie, net om later uit te vind dat jy ’n bybetaling van R4 000 het.

Vra eerder vir jou finansiële beplanner om jou bestaande versekering te hersien om te kyk waar logiese aanpassings gemaak kan word om geld te spaar. Daardie digitale kamera wat jy destyds vir R6 000 verseker het kos dalk nou net R1 500 om te vervang.

Waak daarteen om summier die dekking op huisinhoud en geboue te verlaag. Dit is relatief goedkoop en as die versekerde bedrag nie voldoende is nie kan die “awery-beginsel” jou hard slaan.

’n Ander kommerwekkende tendens in moeilike tye is die toename in bedrog by versekeringseise.

Statistiek wat deur die Suid-Afrikaanse versekeringsmisdaadbureau (SAICB) vrygestel is, toon dat bedrog oor die afgelope jaar met 10 to 12 persent toegeneem het. Dit is veral opmerklik met voertuie, skootrekenaars en selfone.

Die tegnologie raak so gesofistikeerd dat eise verdraai of bloot vervals word. Ons het almal al gehoor dat mense tong in die kies sê hulle wens hul rekenaar word gesteel sodat hulle kan “opgradeer”.

Dit kos die bedryf tot en met R3-biljoen per jaar, wat natuurlik almal se premies opjaag. Die eerlikes subsideer die skurke en almal is slegter af.