Ons by PWM stuur gereeld korrespondensie aan ons kliënte oor belangrike aspekte van korttermynversekering, skryf Pieter Willem Moolman, stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth.

Hoewel dit die versekerde se verantwoordelikheid is om seker te maak hy is reg verseker, kan die tussenganger wel raad en leiding gee. ‘n Polisbewoording is baie bladsye en word normaalweg nie deur die versekerde gelees nie.

In die verlede was polisbewoordings ook baie kompleks, maar deesdae bepaal wetgewing dit moet in eenvoudige en verstaanbare taal aangebied word.

Ek raai aan dat jy dit wel lees – ‘n mens teken tog nie ‘n kontrak waarvan jy nie die inhoud ken of verstaan nie.

In die res van hierdie rubriek raak ek drie belangrike aspekte van jou versekering aan: die betaling van jou premie, onderversekering en rybewyse.

Betaal jou premie elke maand betyds. Onthou, dis jou verantwoordelikheid om seker te maak daar is voldoende fondse in jou bankrekening.

Stel jou makelaar dadelik in kennis as jou bankbesonderhede verander het. Versekeringspremies is vooruit betaalbaar en geen betaling beteken geen dekking nie.

Onderversekering is ‘n aspek wat baie by woonhuise voorkom. Versekerdes vergeet dikwels die versekerde waarde sluit nie die professionele fooie van argitekte en ingenieurs, slopingskostes, swembaddens, grensmure, besproeiingstelsels, plaveisel, elektriese hekke, tennisbane en ander ekstras in nie.

Laastens beteken ‘n rybewys nie noodwendig jy kwalifiseer om enige voertuig te bestuur nie. Maak seker al die persone wat joune bestuur, het ‘n geldige een.

Let op die kode van die bestuurderslisensie asook beperkings – veral in die geval van sleepwaentjies en karavane. Onvoldoende of ongeldige rybewyse beteken geen dekking nie.