Die miljarde rande wat mense in geldskemas belê, slaan hom stom.
Dis nou Nico van Gijsen, ’n bekende in ons bedryf, wat só in sy rubriek skryf.
Dit gaan sy verstand te bowe dat ’n skelm met ’n Ponzi-skema meer geld in ’n jaar kry om te belê as die meeste eerlike beleggingsraadgewers in ’n dekade.
Hy noem dit “gierigheid” en “dwaasheid” want finansiële onkunde is dit belis nie.
Mense in die finansiële veld skryf en waarsku daaroor – as dit te goed klink om waar te wees, dan is dit.
Maar, sê Van Gijsen, soos die rotte in die Pied Piper, hoor hulle die fluit van hoë opbrengste en kitsrykdom en kom so onder die hipnotiese bekoring van die fluitblaser en volg hom dan blindelings.
Raad val op dowe ore. Mense glo wat hulle wil. En dit is wat die skelm raaksien.
Jou spaardoelwit word skaars oorweeg, sê Van Gijsen. Dis net opbrengs, wat musiek in die ore van die gierige is.
Hy beklemtoon hoe die een skandaal op die ander bewys is van hoe die skelms mense se geneigdheid om andere te volg, misbruik om nog slagoffers nader te trek.
Die eerste “beleggers” kry hemelhoë opbrengste en sportpersoonlikhede en politici word nader getrek om ’n gemaklikheid te kweek.
Die swerkater self hoef niks te bewys nie; kyk dan wie ondersteun hom. Dit is die grondslag van ’n piramideskema, skryf Van Gijsen: opbrengste wat gierigheid stimuleer en bekendes wat die “veiligheid” van die skema onderskraag.
Baie mense is erg emosioneel oor geld en dit is gewoonlik hulle wat die eerste en die grootste slagoffers word. Dit is dikwels ouer mense, wat hartseer is.
Soos die skrywer, raai ek aan om emosies uit beleggingsgesprekke te neem. Jou behoeftes moet die enigste maatstaf wees.
Dit sal bepaal hoe jou plan gaan lyk. Dit is hoe jy rykdom skep. Werk met ’n plan. Nie beloftes nie.
Ter afsluiting wil ek beklemtoon dat jy bitter versigtig moet wees indien beloofde opbrengste hoër is as wat geloofwaardige instansies kan aanbied.