Die afgelope paar jaar is maar onsekere finansiële tye vir die meeste Suid-Afrikaners, met baie wat sukkel om kop bo water te hou. Skryf Pieter Willem Moolman, stigter van PWM Finansiële Bestuur in Port Elizabeth.

In vandag se rubriek gaan ek nie oor ’n spesifieke onderwerp skryf nie, maar eerder ’n aantal aspekte aanraak wat ons almal tot ’n mindere of meerdere mate beïnvloed.

Kom ons begin met die olifant in die vertrek – Covid-19. Ek dink dit het en gaan ’n groter impak hê as wat ons in hierdie stadium besef – nie net finansieel nie maar ook in terme van sielkundige letsels.

Wat is die nuwe normaal? Wat kan ons vorentoe verwag? Hoe lank gaan dit nog duur? Dis alles vrae sonder antwoorde, behalwe dat dit verseker tyd gaan neem.

Dis ’n feit dat ons aanpassings sal moet maak. Almal van ons gaan verplig wees om sekere lewenstylveranderinge te maak.

Die beste raad in sulke tye is om nie oorhaastige besluite te neem nie. Dis gewoonlik belaai met emosies en irrasioneel.

Sien hierdie as ’n tyd van “oorlewing” en kyk die kat goed uit die boom uit. ’n Veranderende omgewing bied gewoonlik geleenthede en probeer dus om die glas half vol eerder as half leeg te sien.

Nog ’n vraag is hoekom die rand versterk het? Dit is op die hoogste vlakke in drie tot vier jaar en ek dink nie dit maak lekker sin nie – nie vir ekonome nie en nog minder vir Jan Publiek.

Ons ekonomie vaar nie waffers nie en ons politieke situasie is ver van stabiel af en my vraag is of iemand iets sien wat die res van ons miskyk?

Die volgende opmerkings is wel relevant:

  • Dis nie maklik om die wisselkoers te voorspel nie en dit kan binne weke baie verander;
  • Die langtermyntendens is dat die rand stelselmatig verswak teenoor die dollar; en
  • Plaaslike staatseffekte is steeds aantreklik vir buitelanders en kan vinnig ontrek word aangesien dit nie langtermynbeleggings is nie.

My punt is dat buitelandse beleggings riskant is – nie soseer die onderliggende belegging nie maar wel as gevolg van die wisselkoers.

Jou beleggingsportefeulje moet beslis buitelandse blootstelling hê, maar dit hang af van die tydsduur en jou aptyt vir risiko. Ouer mense wat van hul pensioen afhanlik is, moet versigtig wees.

As jy nog nie geld in die buiteland het nie, is dit nou ’n goeie tyd. Raadpleeg egter ’n goeie finansiële adviseur om jou by te staan.

Nog iets wat ek wil aanraak is die belangrikheid van ’n eenvoudige, prakties uitvoerbare testament indien jy 18 jaar en ouer is.

Maak seker jy weet waar jou oorspronklike testament is en probeer verrassings vir erfgename te vermy deur dit met hulle te bespreek. Dit sal help om onnodige familietwiste te vermy.

Diegene met ’n familietrust kan nie die bates bemaak nie, maar wel hul wense deur middel van ’n getekende wensbrief bekend maak.

Die huidige milieu is uitdagend. Wees rustig en leef elke dag. Spreuke sê vir ons dat jy jou lewe kan beplan, maar dat God sal bepaal hoe dit verloop.