In ’n tyd wanneer daar meer werklose as werkende jongmense in Suid-Afrika is, is dit nou belangriker as ooit om ons kinders se toekoms te verseker.
Jy wil hulle toerus om bo hul mededingers uit te styg in die wedloop om die min poste wat beskikbaar is, te vul.
Die koste van ʼn vierjaargraad by die Universiteit van Pretoria of Stellenbosch is in die omgewing van R1-miljoen. Dit sluit klasgelde, verblyf, kos, boeke en persoonlike uitgawes in.
Harvard en die Massachusetts Instituut vir Tegnologie (MIT) se fooie bedra sowat 330 000 Amerikaanse dollar vir ʼn soortgelyke graad – dus rondom R6-miljoen.
As jy vanaf jou kind se geboorte spaar, het jy 22 jaar om die belegging te laat groei.
Wanneer jou kind gereed is om universiteit toe te gaan, sal jy heel waarskynlik maklik ʼn studentelening teen ʼn lae rentekoers kan kry as jy hierdie belegging as sekuriteit aanbied. Die belegging self sal gedurende die vier jaar van studie teen ʼn hoër koers verder groei.
Wanneer jou kind 22 is, sal die totale skuld ongeveer R3.6m wees, met die aanname dat inflasie ses persent per jaar beloop tot dan.
Indien die belegging ʼn aanvanklike termyn van 22 jaar het, kan jy in ʼn aggressiewe portefeulje belê, wat jou 13 persent groei per jaar behoort te gee.
As jy die bydrae met die jaarlikse inflasiekoers verhoog, sal jy vanaf dag een R1 700 per maand moet spaar.
Indien jy op ʼn portefeulje met ʼn matige risiko besluit, wat ʼn opbrengs van 11 persent lewer, styg die maandelikse premie wat nodig is tot R2 150 per maand.
Dit is egter nie net die portefeulje se risikoprofiel wat ʼn invloed het op hoeveel jy moet spaar nie. Die termyn se invloed is selfs nog groter.
Indien jy vandag vir jou vyfjarige begin spaar, styg die bedrag wat jy moet wegsit tot R3 150 per maand.
Indien jy vir oorsese studie voorsiening wil maak, moet jy die nodige spaarbedrag met ses maal.
Om te voorkom dat wisselkoersskommelinge ʼn impak het, moet ʼn spaarplan vir buitelandse studie verkieslik in die geldeenheid wees van die land waar jou kind eendag wil studeer.
Hierdie bedrae lyk vir baie mense buite bereik en daarom probeer hulle nie eens spaar nie. Selfs die kleinste begin sal egter ʼn impak hê op wat eendag beskikbaar sal wees.
Al word net die klasgeld (ongeveer ʼn derde van die totale koste) gedek, sal jy al ver gevorder het om ʼn beter toekoms vir jou kind te verseker.
In samewerking met Ronald King (PSG)