Baie eenmansake het oor tyd in enorme maatskappye ontaard sonder dat die nodige aandag ooit aan sinvolle besigheidstrukture gegee is.
Die korrekte struktuur is van kardinale belang vir jou onderneming se voortbestaan. Die vraag is egter hoe om die regte een te kies.
Die antwoord is nie maklik nie en hang van ’n hele aantal faktore af. Van die belangrikste hiervan is aspekte soos kontinuïteit, belasting en die aantal eienaars.
As dit vir jou belangrik is dat jou besigheid by dood moet voortgaan, moet jy ’n regsentiteit kies wat kontinuïteit sal toelaat. My persoonlike keuse is ’n privaatmaatskappy, maar dit kan ook ’n saketrust wees.
Dit is ook moontlik om die bates in ’n inter vivos-trust te hou, wat dit op sy beurt aan ’n privaatmaatskappy sal verhuur.
Bekom asseblief regsadvies indien jy ’n saketrust as regsentiteit wil gebruik aangesien dit ’n mynveld vir ’n leek kan wees.
Wat belasting betref, is daar ook verskillende regsentiteite in tel. ’n Alleeneienaar word nie dieselfde as maatskappye en beslote korporasies belas nie.
Inkomstebelasting van ’n privaatmaatskappy en beslote korporasie word byvoorbeeld teen ’n vaste koers van 28 persent belas en dividende teen 20 persent.
Daarteenoor word ’n saketrust teen ’n vaste koers van 41 persent belas. Boedelbelasting word ook verskillend hanteer.
Dit is baie belangrik om jou onderneming op ’n belastingdoeltreffende wyse te struktureer. Maar wees gewaarsku om nie slegs om belastingredes op ’n sekere struktuur te besluit nie.
’n Derde belangrike aspek is die aantal eienaars. Indien daar meer as een is, sal ’n privaatmaatskappy heel waarskynlik die gunsteling regsentiteit wees.
Verder speel sekuriteit ook ’n rol. Probeer altyd om jou eie bates van die onderneming s’n te skei om te verhoed dat joune by insolvensie ook verkoop word.
Waak teen enige borgstellings!
Daar is al boeke oor hierdie onderwerp geskryf en daar is ongelukkig nie ’n bloudruk nie. Dit gaan heel waarskynlik ’n kombinasie van regsentiteite wees.
Indien jy van hierdie soort finansiële manipulasie gebruik wil maak, gaan jy beslis professionele hulp benodig.