Waarheen is jy, finansieel gesproke, op pad?

Die vraag wat elkeen van ons onsself moet vra, is of ons finansieel onafhanklik is. Of, anders gestel, of ons op die pad na finansiële onafhanklikheid is, skryf Pieter Willem Moolman, stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth.

Dit mag jou dalk skok om te hoor dat slegs vier persent van Suid-Afrikaners hul daarop kan roem dat hulle nie op iemand of iets anders aangewese is wanneer dit by finansies kom nie. Die kanse is dus goed dat vandag se rubriek op jou van toepassing is.

Maar wat is finansiële onafhanklikheid dan nou eintlik? In sy eenvoudigste vorm, beteken dit dat jou bates – insluitende eiendom – ‘n passiewe inkomste genereer wat jou maandelikse uitgawes dek.

Indien jou uitgawes dus byvoorbeeld R18 000 is en jou opbrengs R20 000, het jy ‘n surplus van R2 000 sonder om ‘n steek werk te doen.

Dis werklik hoe eenvoudig dit is. Dit het niks te doen met hoeveel geld jy in die bank het of hoe groot jou salaris is nie.

Daar is drie beginsels wat jou kan help op jou paadjie na finansiële onafhanklikheid.

Begin deur jou inkomste met jou uitgawes te vergelyk. Stel ‘n begroting op en sien presies hoe jy jou geld bestee.

Jy sal vinnig sien of jy ‘n surplus aan die einde van die maand het en of jy ‘n oortrokke-gerief, kredietkaart of lenings nodig het om jou lewenstyl te finansier. Indien jy een van die gelukkiges is wat elke maand geld oor het, is die volgende vraag wat jy daarmee moet maak.

Die tweede beginsel behels jou finansiële doelwit of visie. Jy droom dalk oor hoeveel jy wil verdien en wat jy graag wil hê en doen wanneer jy aftree.

Daar is ‘n Engelse spreekwoord wat, losweg vertaal, lui dat indien jy nalaat om te beplan, jy beplan om onsuksesvol te wees. Die oorgrote meerderheid van die bogenoemde 96 persent beland juis in die penarie omdat hulle nie finansiële doelwitte stel nie – anders gestel, omdat hulle planloos is.

Die derde beginsel sentreer rondom die finansiële gewoontes wat jy moet verander om te kom van waar jy nou is tot waar jy wil wees. Dus die padkaart, of roete, wat jy gaan volg tot onafhanklikheid.

Dis soos om van Port Elizabeth na Oos-Londen te reis met die hulp van satelliet-navigasie of ‘n padkaart. Jy moet weet waar jy jouself bevind, waarheen jy op pad is en die aanwysings volg wat jou die maklikste en vinnigste tot by jou bestemming sal neem.

Stel jou finansiële doelwitte en werk hard om hulle te verwesenlik, maar aanvaar dat daar terugslae gaan wees. Moet net nie tou opgooi nie, want aanhouer wen.

Onthou, die enigste plek waar sukses voor werk kom, is in die woordeboek.