Index

Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors
post

Buitelandse beleggings meer as net effens kompleks

In teenstelling met die beperkte Suid-Afrikaanse beleggingsomgewing is buitelandse beleggings met hul hordes maatskappye en fondse meer as net effens kompleks.

As jy nie ’n aptyt vir risiko het nie, is dit basies nutteloos om al jou geld blindelings in riskante buitelandse aandelemarkte te stort. Dit is uiters belangrik om te verstaan wat jou risikoprofiel is alvorens jy besluit om jou lyf internasionale belegger te hou.

Die onsekerhede van geografiese blootstellings aan aandelemarkte in Amerika, Brittanje en die res van Europa kan jou ook lelik pootjie en moet in ag geneem word.

Soos altyd is daar ook daai belastingvloekwoord wat ons nie wil hoor nie, maar wat ontwerp is om dinge net nog meer ongemaklik vir die amateurbelegger te maak. En ja, daar is ’n magdom belastingoorwegings wanneer jy jou bates oorsee wil neem.

Beide die Verenigde State en Brittanje vereis byvoorbeeld dat mense wat in die buiteland woon boedelbelasting (Inheritance Tax) op hul bates – insluitende eiendom en aandele – moet betaal.

As jy byvoorbeeld aandele op die SP 500-beurs besit, sal jou erfgename 40 persent buitelandse boedelbelasting op beleggings bo 60 000 Amerikaanse dollar moet opdok – natuurlik ’n lekker meevallertjie vir daardie lande.

’n Ongenooide belastingaanslag op jou fondse kan natuurlik grootliks die hoof gebied word deur die verantwoordelikheid aan die deur van ’n verantwoordelike finansiële adviseur te lê. Hy sal ’n beleggingstruktuur  gebruik wat jou sal help om jou belastingsake volgens die letter van die wet en tot jou voordeel te bestuur.

Dan is daar natuurlik die invloed van wisselkoerse. In al my jare in hierdie bedryf het ek nog niemand raakgeloop wat dit kon voorspel nie en ek dink ook nie dit sal gou gebeur nie.

Hoekom nie?

Daar is ’n miljuisend faktore wat dit in ’n oogwink kan verander. Dink maar aan vliegtuie wat in geboue in Amerika vasvlieg en oorloë soos die een in die Oekraïne.

Die les vir die dag is wel ’n eenvoudige een. Maak seker dat ’n bekwame persoon vir jou ’n diskresionêre portefeulje, volgens die korrekte struktuur en met inagneming van jou risikoprofiel, saamstel.