Voor ons oor die noodsaaklikheid van boedelbeplanning praat, kom ons kyk net eers gou na die definisie.
Dit is die proses waardeur ’n individu of familie die oordrag van bates reël in afwagting van dood.
’n Boedelplan se doel is om die maksimum hoeveelheid welvaart vir die beoogde begunstigdes asook buigsaamheid vir die individu voor die dood te skep.
Boedelbeplanning is nie net die druk van ’n knoppie nie. Dit is ’n proses wat ek in drie stappe wil verduidelik.
Eerstens moet daar ’n geskikte adviseur aangestel word en daardie persoon moet dan akkurate inligting van die kliënt ontvang.
Dit lei dan na ’n skriftelike aanbeveling alvorens die implimentering van die voorstelle met die kliënt bespreek word.
Die oordra van welvaart is volgende op die lys van my besprekingspunte en dit is ongelukkig nie moontlik sonder ’n volledige boedelplan nie.
Dan is die woord “dood” ook belangrik aangesien niemand weet wanneer dit gaan gebeur nie. Ons het byvoorbeeld die afgelope tyd met tragiese sterftes van jongmense (onder 40) te doen gehad.
Die les hier is dat tyd nie jou vriend is wanneer dit by boedelbeplanning kom nie.
Elemente wat in ’n volledige boedelbeplanning aangespreek behoort te word is dinge soos boedelbelasting, kapitaalwins en inkomstebelasting. Gaan jy moet opdok en hoeveel?
Laasgenoemde het veral betrekking op mense wat nog in hul persoonlike naam boer.
Daar is ander vrae ook. Weet jy byvoorbeeld wat die invloed van die aanwasbedeling op jou boedel gaan wees?
Dit kan wesenlike komplikasies in sommige boedels veroorsaak en moet dus in aanmerking geneem word – veral as testamente opgestel word. Onthou, jy kan nie bemaak wat nie joune is nie.
Seker die belangrikste aspek van enige boedelbeplanning is of daar kontant beskikbaar is al dan nie. Jou eksekuteur sal sukkel om jou boedel daarsonder af te handel en dit kan daartoe lei dat bates verkoop of verbind moet word.
Om behoorlik voorsiening vir jou afhanklikes te maak is die laaste aspek om oor te besin. Mense het partykeer ’n wanbegrip van hoeveel geld, of ander bates, nodig is om sinvol na afhanklikes te kyk.
’n Jong, getroude individu met twee minderjariges moet byvoorbeeld reeds noord van R5-miljoen mik.
My pleidooi is om ’n geskikte finansiële adviseur te nader sodat seker gemaak kan word dat die nodige vrae gevra en beantwoord word wanneer jy boedelbeplanning doen.