Onstabiliteit in markte – wat gewoonlik volg op natuurrampe, terreuraanvalle en oorloë soos die een tussen Rusland en die Oekraïne – lei tot paniek by beleggers en dan word emosionele besluite dikwels geneem.

Ek wil beleggers daarteen maan aangesien dit hul langtermyndoelwitte negatief kan en, waarskynlik, sal beïnvloed.

Emosie is die mees vernietigende krag wanneer dit by ’n persoon se vermoë kom om weldeurdagte besluite te neem. Laasgenoemde is immers op logiese denke gegrond!

Dit veroorsaak dat beleggers paniekerig raak wanneer die markte terugsak of die ekonomie sukkel en gulsig raak sodra die markte oplewing toon.

Dis veral met ’n opswaai in die mark wat beleggers die trop blindelings volg en skielik risiko’s wat voorheen nie met hul langtermynstrategie gestrook het nie, begin neem.

As mens so na dié beleggingsfilosofie kyk, is dit duidelik hoekom algemeen aanvaar word dat markte deur gierigheid en vrees gedryf word.

Die Dalbar-marknavorsingsmaatskappy het destyds gaan kyk hoe die afbrekende kragte van emosionele beleggingsbesluite persone benadeel.

Hulle het bevind dat oor ’n tydperk van 20 jaar tot en met 2009 die markindeks met gemiddeld 8.2% per jaar gegroei het terwyl beleggers oor dieselfde periode gemiddeld 3.17% verdien het.

Dit beteken dat beleggers dubbeld die opbrengs sou gekry het indien hulle nie met hul geld gepeuter het nie en net in die algemene indeks gelos het. Emosie wat met logika inmeng, was hier die skuldige.

Een manier om emosie uit die beleggingsbesluit te neem, is om ’n gesoute beleggingsadviseur te gebruik wat jou kan help om logies en rasioneel op ’n strategie te besluit.

Jy kan ook daai emosies pypkan deur jou beleggingsdoelwitte te verstaan en by hulle te bly en dis natuurlik raadsaam om realisties oor die verwagte opbrengs te wees.

Beleggingstydperke kan natuurlik beplan word om by jou lewenspatroon in te pas sodat jy genoeg geld het om spesifieke behoeftes op verskillende tye in jou lewe te kan finansier.

Dit is ook belangrik om ’n duidelike beleggingsfilosofie te hê en konsekwent te bly. Laastens, probeer om op langtermyndoelwitte te fokus ten einde korttermynspekulasie te vermy.