Die grendeltydperk waarin ons vasgevang is, laat ons met baie onsekerhede, skryf Pieter Willem Moolman, stigter van PWM Finansiële Bestuur in Port Elizabeth.
Wie kon dink dat daar ‘n tyd sou kom waarin daar bykans nie ‘n vliegtuig enige plek in die wêreld in die hemelruim sou wees nie. Dit is amper ondenkbaar.
Verder maak besighede, wyd en syd, hul deure toe en dit maak ons paniekerig. Die enigste raad in hierdie verband is om kalm te bly en dit dag vir dag te neem.
Ek wil egter nie vandag oor die grendeltydperk skryf nie, maar eerder ‘n belangrike wenk oor menswees gee wat by jou huis, familie en werk van toepassing is.
Tydens een van my stil dae het ek tussen my ou boeke rondgespeel en op die bekende skrywer Dale Carnege se Hoe om vriende te wen en mense te beïnvloed afgekom.
Ek twyfel of ek dit so goed soos hy kan verwoord en daarom haal ek die volgende gedagtes aan:
“Kritiek is vrugteloos want dit plaas die ander persoon op die verdediging en dwing hom gewoonlik om sy gedrag te probeer regverdig. Dit is gevaarlik, want dit krenk ‘n man in sy eer, kwets sy gevoel van belangrikheid en laat hom gegrief voel.
“Die gegriefdheid wat kritiek uitlok, kan werknemers, familielede en vriende demoraliseer/disassosieer en nog steeds nie die situasie regstel wat tot die kritiek aanleiding gegee het nie. Kom ons besef dat kritiek soos ‘n posduif is. Dit kom altyd terug huis toe. Die persoon wat berispe en veroordeel word, gaan waarskynlik sy/haar optrede probeer regverdig. Onthou mense is nie logiese wesens nie, maar emosionele wesens wat vol vooroordele is en deur trots en ydelheid gemotiveerd word.”
Die skrywer sê dus dat eerder om mense te veroordeel, moet ons hulle probeer verstaan. Dan kan ons dalk begryp waarom hulle die dinge doen wat hulle doen.
Dit is meer winsgewend en interessanter as kritiek en kweek simpatie, verdraagsaamheid en goedhartigheid. Probeer om ‘n goeie luisteraar te wees en die ander persoon belangrik te laat voel.
Niks versmoor die ambisie van iemand soos die kritiek van meerderes of ouers nie. Spoor liewer aan en swaai lof toe.
In sy boek sê Carnege, “Once I did bad and that I heard ever. Twice I did good, but that I heard never”, en dis besonder beskrywend in hierdie geval.
Daar is net een manier om iemand te beweeg om iets te doen. Sorg dat die ander persoon dit wil doen.
Met kritiek gaan jy sukkel. Jy kan probeer om ‘n geweer teen die persoon se ribbes te druk en dit sal waarskynlik steeds nie effektief wees nie.
Hierdie beginsel kan ‘n groot verskil maak in ‘n besigheid, boerdery, vriendekring en familie en dit is my beleggingsraad vir die dag.