Ons staan op die drempel van ‘n nuwe finansiële jaar wat heel waarskynlik baie nuwe uitdagings gaan hê, skryf Pieter Willem Moolman, stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth.
Dis gewaarborg om talle verrassings en veranderinge op te lewer wat op elkeen se lewe ‘n invloed gaan hê – daarom gee ek vandag enkele riglyne vir finansiële oorlewing in hierdie onsekere tye.
Die eerste belangrike aspek is die vraag of jy weet waar jy oor ‘n jaar, of selfs vyf, finansieel wil wees. Stel jy vir jouself doelwitte of leef jy maar van dag tot dag?
Die Amerikaanse bofbalspeler van ouds, Yogi Berra, het altyd gesê as jy nie weet waarheen jy op pad is nie, sal jy waarskynlik nie daar uitkom nie. Stel dus vir jou doelwitte.
Die stel van doelwitte sal egter nie jou bas red nie. Jy moet baie hard werk en dissipline aan die dag lê om hulle te bereik.
Baie van ons het drome en baie van ons stel doelwitte, maar min is werklik bereid om skouer aan die wiel te sit.
Daar sal sonder twyfel terugslae wees wat moontlik jou inisiatiewe kan demp, maar daar is ‘n spreekwoord wat lui dat die mees suksesvolle mense diegene is wat een keer meer opstaan as wat hulle platgeslaan word. As Plan A nie slaag nie, probeer Plan B.
Probeer spaar om minstens ‘n noodfonds te vestig. Verpligte spaar bly een van die hoekstene van enige finansiële plan.
Moenie uitstel nie! Begin dadelik en probeer om tussen 15 en 18% van jou maandelikse inkomste weg te sit.
Daai belangrike beginsel van spaar alvorens jy spandeer eerder as spandeer voor jy spaar kom maar altyd na vore. “Spaar ‘n vuurhoutjie en koop ‘n plaas”, het my pa-hulle altyd gesê.
Indien jy afhanklikes het, maak seker hulle is finansieel onafhanklik by ontydige dood. Dit beteken normaalweg voldoende lewensversekering.
Moenie uitstel nie; jy weet nooit wanneer jou tyd kom nie. Dieselfde geld natuurlik vir ongeskiktheid en daarom is ‘n voldoende inkomstebeskermer noodsaaklik.
Daar is baie finansiële beginsels, maar bogenoemde is die belangrikste. Stel doelwitte, spaar en maak voorsiening vir lewensveranderende gebeurtenisse.
En kry iemand wat jou met goeie advies kan bystaan.