Ek dink nie dit is vergesog om te sê dat ons almal se omstandighede deurgaans verander nie en dat dít ’n noemenswaardige invloed op ons boedelbeplanning kan hê.

En omdat trusts dikwels ’n belangrike rol in ons finansiële beplanning speel, is dit ewe belangrik om dit gereeld te hersien omdat wetgewing asook omstandighede, deurgaans verander.

Die laaste ding wat jy wil hê, is om jouself in die voet te skiet omdat jou trust se klousules verouderd is en nie meer by jou unieke omstandighede pas, of as trustees nie jou wense vir die trust kan uitvoer nie .

Trusts word onder meer as ’n hulpmiddel in opvolgbeplanning ingespan om die bates in ondernemings en boerderye vir minderjariges en erfgename te beskerm. Dit is ook handig om te gebruik vir risiko beplanning, besigheid beplanning en belasting beplanning gedurende jou leeftyd, en is dit ook handig vir beplanning vir wat met jou bates gebeur na dood

Ons sien egter baie met verouderde paragrawe of waar gedeeltes wat die trustees in staat behoort te stel om die trust behoorlik te administreer, heeltemal ontbreek.

’n Trust wat in lewe opgerig word – ook bekend as ’n inter vivos-trust – is in wese ’n kontrak tussen die oprigter en die trustees waar laasgenoemdes die bates tot voordeel van die begunstigdes moet administreer.

Dit is baie belangrik om te onthou dat trustees deur die meester van die hooggeregshof aangestel word en dat enige bedrywighede vóór dan nietig verklaar sal word.

Die akte sit die magte en verpligtinge van die trustees uiteen. Indien dit byvoorbeeld nalaat om bepaalde bevoegdhede aan trustees te verleen, kan hul optrede ongeldig wees.

’n Voorbeeld sou wees wanneer hulle ’n belegging namens die begunstigdes wil maak sonder dat die trust daardie bevoegdheid aan hulle verleen het. In hierdie geval sal die trustakte dan eers gewysig moet word.

Jy wil nie in hierdie slaggate trap nie en daarom moet jy die trust van tyd-tot-tyd laat hersien om seker te maak dat die bepalings daarvan nog relevant en in ooreenstemming met die jongste wetgewing is.

 

Een paragraaf wat die trust kan maak of breek is die wysigingsklousule. Indien dit prakties uiteengesit en in orde is, kan enige ander potensiële probleem in die akte maklik aangespreek word.

Die wysiging van die akte moet nie ligtelik aangepak word nie! Verskeie faktore moet in aanmerking geneem word om ’n geldige wysiging te kan maak.

Vir hierdie redes is dit belangrik om ’n spesialis aan te stel om die trust op te rig of te wysig sodat dit die korrekte, uitvoerbare klousules bevat en behoorlik verander kan word.

Soos die Engelsman sou sê: Trust my.