Ons weet waarskynlik almal van iemand wat al gekla het dat die versekering nie hul eis wou uitbetaal nie ten spyte daarvan dat hul versekeringspremies tot op datum betaal was, skryf Pieter Willem Moolman, stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth.
Die rede lê gewoonlik in die fynskrif en daarom wil ek ‘n paar belangrike beginsels bespreek wat jou kan help sodat jy nie in dieselfde slaggate trap nie.
Soos met ander dinge in die lewe, kan goedkoop premies jou duur te staan kom. Mense is geneig om van versekeraar tot versekeraar agter goedkoper premies aan te skuif sonder om aan die gevolge te dink.
Indien jy wil skuif, maak seker dat die nuwe versekeraar wel die vermoë het om eise uit te betaal. Ook dat hulle goeie diens kan lewer wat die spoedige betaling van eise insluit.
Die tipe dekking is natuurlik ook belangrik. Die basiese polis by verskillende versekeraars is redelik standaard, maar daar kan tog wesenlike verskille ten opsigte van uitbreidings, bybetalings en uitsluitings wees.
Verder kan ‘n lang verhouding met ‘n bepaalde versekeraar jou help wanneer dit by die uitbetaling van twyfelagtige eise kom.
Dis kardinaal belangrik om ‘n goeie en bevoegde makelaar aan te stel om jou versekeringsportefeulje te bestuur. Maak net seker dat hy soos per wetgewing gelisensieerd is, professionele aanspreeklikheidsdekking van minstens R5-miljoen het en dat jy weet wat die diensmodel is.
Laasgenoemde moet op skrif wees en die vergoedingstruktuur sowel as die partye se verantwoordelikhede uitstip.
Die volgende belangrike element is om seker te maak jy geniet voldoende dekking. Gaan deur die verskillende afdelings met jou makelaar en so leer jy die produk ook ken.
Vra wat die bybetalings is. Hoewel dekking by verskillende versekeraars soortgelyk is, kan bybetalings wesenlik verskil.
Wat die eis self betref, moet jy seker maak jy gee kennis daarvan binne die polisvoorwaardes se neergelegde tyd. Jy mag egter geen erkenning, verklaring, aanbod, belofte, betaling of skadeloosstelling maak nie – al was jy skuldig.
Geniet die vakansie!