Die benoeming van ‘n begunstigde vir die opbrengs van ‘n lewenspolis beteken nie dat die bates uit die boedel van die oorledene verwyder word en sodoende boedelbelasting bespaar nie, skryf Pieter Willem Moolman, stigter van PWM Finansiële Bestuur in Port Elizabeth.
Dis ‘n mispersepsie waarmee ek gereeld te doen kry en daarom het ek besluit om vandag se rubriek daaraan toe te wy.
Die opbrengs word as ‘n geagte bate in die boedel hanteer en die effek van die benoeming is bloot dat dit direk aan die begunstigde uitbetaal word, wat daartoe lei dat die eksekuteursfooi wat normaalweg daarop betaalbaar sou wees, bespaar word.
Die bestorwe boedel is ook nie aanspreeklik vir die volle boedelbelasting as die opbrengs van ‘n polis aan ‘n genomineerde begunstigde betaal word nie.
Die eksekuteur sal proporsionele boedelbelasting tussen die boedel en die benoemde begunstigde moet verhaal, wat beteken laasgenoemde word vir ‘n gedeelte van die boedelbelasiting aanspreeklik gehou.
Die likiditeit van die boedel kan natuurlik nadelig beïnvloed word deur sodanige benoeming aangesien dit daartoe kan lei dat dit ryk aan bates, maar swak in terme van kontantvloei is.
Indien dit die geval is, kan die eksekuteur noodgedwonge gedwing word om vaste eiendom of ander bates te verkoop om vir die administrasiekostes van die boedel te betaal.
Die kontantvloei moet voldoende wees vir die terugbetaling van skuld asook die delging van boedel- en kapitaalwinsbelasting, eksekuteursfooie insluitende meestersgelde, uitstaande inkomstebelasting en, in sommige gevalle, oordragkoste van vaste eiendom.
Sinvolle boedelbeplanning help om seker te maak dat daar genoeg kontant in die boedel is.
Soms is dit belangrik om die boedel te nomineer vir die polisopbrengste, maar die fokus moet wees op die doelstellings van die boedelbeplanning eerder as om belasting en fooie te probeer vermy. Die gevolgtrekking is dus dat begunstigde-nominasies nie altyd wenslik is nie.
Baie gestruktureerde boedelplanne het al misluk ten spyte van die feit dat dit belasting- en koste-effektief was, omdat die behoeftes van gesinslede verwaarloos was.
Om met ‘n fidusiêre adviseur te werk, sal help om te verseker dat jy die groter prentjie sien.