Kan jou versekeringspremie beter belê word?

Omdat ons as polishouers moontlik vir jare nie ‘n eis instel nie, sou ons seker nie verkwalik word indien ons hierdie vraag vra nie, skryf Pieter Willem Moolman, stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth.

Mens moet onthou dat korttermynversekering uitgeneem word om ons welvaart te beskerm eerder as om dit te bou. Dink byvoorbeeld wat sal gebeur indien jy in ‘n motorongeluk beland of jou huis brand af en jy moet die skade uit jou sak uit betaal.

Dit sal sommige van ons heeltemal finansieel ruïneer of, as ons gelukkig is, ons finansies ‘n behoorlike knou gee. Dit is nie ‘n risiko wat ek bereid is om te neem nie.

Die tweede stap is om seker te maak jy is reg verseker. Maak seker jou eiendom se sekuriteitsmaatreëls is volgens jou versekeraar se vereistes en dat die alarmstelsel gereeld getoets en aangeskakel word wanneer jy jou perseel verlaat.

Ons het onlangs ‘n eis hanteer waar ‘n huisvrou haar kind by die skool gaan haal het sonder om die alarm te aktiveer. Daar was ‘n inbraak en die eis is gerepudieer.

Sorg dat jou selfoon en skootrekenaar gespesifiseer is en dat jy ‘n deeglike inventaris van jou huisinhoud optrek. En, om die eisproses te vergemaklik, is dit altyd ‘n goeie idee om bewyse van aankope te hou, veral wanneer dit by elektroniese goedere en juweliersware kom.

Foto’s van items soos leerbaadjies en skilderye kan as bewyse ingedien word en vergemaklik die proses om gesteelde goedere te identifiseer en vervangingswaardes te bepaal.

Onthou egter dat jou versekeraar jou met premieverhogings kan “straf” indien jy dikwels eise instel. As polishouer is dit jou verantwoordelikheid om versigtig te wees en op te tree asof jy nie versekering het nie.

‘n Versekeraar en polishouer se verhouding is dié van wedersydse vertroue en eerlikheid. Indien jy uitgevang word, sal jou versekeraar nie jou eis uitbetaal nie en jou selfs strafregtelik laat vervolg. Skuldiges kan dalk sukkel om weer versekering te bekom.

Daar word geskat dat bedrieglike eise die rede is dat premies wêreldwyd tussen vyf en vyftien persent toeneem.

Lees en verstaan jou polis. Nie alle eise beteken dat jou premie op hernuwing verhoog gaan word nie, maar weet waar dit wel die geval is.

Korttermynversekering se doel is om jou in dieselfde posisie as voorheen te plaas en dis presies wat jy kan verwag indien jy die korrekte versekering vir jou behoeftes het.