Vandag wil ek praktiese raad gee oor hoe om slaggate in jou versekering te indentifiseer en te vermy, skryf Pieter Willem, stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth.

Een van die diepste hiervan is serkerlik die onderversekering van huisinhoud.

Mense neem doodluiters inhoudsdekking uit en hernu dit jaarliks sonder om ooit daaraan te dink om die dekking op te dateer.

Nuwe huishoudelike items moet natuurlik bygereken word en die korrekte en nuutste vervangingswaardes moet in gedagte gehou word.

Ná onderverseking is die instandhouding van eiendom seker een van die grootste sondebokke.

Eiendomme wat nie behoorlik onderhou word nie, staan beslis ‘n groter kans om aan die verkeerde kant van ‘n eis op te eindig.

Dis die eienaar se verantwoordelikheid om sy eiendom in stand te hou en onthou dit.

Die meeste polisse dek net skade deur onvoorsiene gebeurtenisse en eise wat uit nalatigheid of nie-instandhouding spruit, sal waarskynlikheid afgewys word.

Wanneer dit by sekuriteitsalarms kom, maak seker jy toets joune gereeld om seker te maak dit werk. En maak seker jy gebruik dit!

Jou versekeringspolis stipuleer dat dit jóú verantwoordelikheid is om toe te sien dat dit werk. ‘n Diefstal-eis sal waarskynlik misluk indien die alarm foutief is.

Hierdie reël geld ook vir pap batterye. Met die ietwat wisselvallige kragtoevoer in ons land, is dit krities om aandag aan hierdie aspek te skenk.

Maak verder seker jou voertuig is padwaardig. Oneffektiewe ruitveërs of gladde bande is voorbeelde van toestande wat die kanse vir ‘n ongeluk vergroot en dié van ‘n uitbetaling verklein.

Indien jy in ‘n ongeluk was en die ondersoek dui daarop dat die voertuig nie in volle werkende toestand is nie, kan jou eis afgewys word.

Die onwettige bestuur van versekerde voertuie is die laaste punt wat ek wil aanraak.

Onthou, dis ‘n kriminele oortreding om onder die invloed of sonder ‘n geldige rybewys te bestuur en jou voertuigversekering kan ongeldig verklaar word.

Indien jy roekeloos bestuur of die spoedgrens oorskry en dit lei tot skade, sal ‘n moontlike eis ook in alle waarskynlikheid afgekeur word.