Vraagstukke rondom die aanwas van ’n boedel maak die hulp van ’n kundige onontbeerlik. Skryf Pieter Willem Moolman, stigter van PWM Finansiële Bestuur in Port Elizabeth.
Wanneer ’n egpaar skei of een van hulle sterf, ontstaan daar soms probleme met wat as die “aanwasbedeling” bekend is. Dit hou gewoonlik verband met ’n voorhuwelikse kontrak wat nie ’n aanwasbedeling uitsluit nie.
Die waarde van die egpaar se onderskeie boedels word bepaal op die datum van hul troue en word as die “aanvangswaarde” beskou.
As hulle skei, moet die een wie se boedel die grootste groei getoon het kragtens die wet ’n bepaalde deel aan die ander een betaal. Dit geld ook in die geval van dood.
Met ’n egskeiding moet dié eis in ag geneem word wanneer die skikkingsooreenkoms opgestel word. Die gevolge van die aanwas word egter die swaarste gevoel wanneer een sterf.
’n Aanwasbedeling-eis ten gunste van die langslewende is teen die boedel van die afgestorwene. Dit word as ’n las hanteer en moet betaal word alvorens die boedelbates kragtens die testament aan begunstigdes oorgedra word.
Dié eis moet in die likiditeitsberekening deur die boedelbeplanner in ag geneem word. Indien nie, kan die boedelbates moontlik tot nadeel van die erfgename en begunstigdes gelikwideer word.
As elke eggenoot sy of haar hele boedel aan die langslewende bemaak, sal die aanwas-eis nie ’n tekort aan likiditeit veroorsaak nie. Die probleem ontstaan wanneer die oorledene ’n deel aan ’n derde party bemaak.
Ter illustrasie gebruik ek die voorbeeld waar ’n egpaar, toe hulle getrou het, geen bates gehad het wat as ’n “beginsaldo” beskou kon word nie.
Die vrou het gedurende die huwelik nie haar eie boedel opgebou nie terwyl haar man ’n groot illikiede boedel bestaande uit sakebelange versamel het. Met sy dood, was sy boedel R50-miljoen (netto) sterk en hare nul.
Hy het sy boedel aan kinders uit ’n vorige huwelik bemaak wat almal in die ondernemings betrokke is, terwyl die weduwee geregtig is om te deel in 50 persent van die groei van sy boedel.
Haar aanwas-eis beloop R25m en moet afgehandel word vóór die begunstigdes hul erfporsie kry, wat ’n likiditeitstekort veroorsaak.
Met voorafbeplanning, kon die oorledene ’n koop-en-verkoop-ooreenkoms met die kinders onderteken het waarin hulle onderneem om R25m in die boedel in te betaal as deel van die koopprys vir sekere van sy sakebelange. Die balans kon dan bemaak gewees het.
Hy kon ook in die testament bepaal het wat die kinders sal erf, op voorwaarde dat hulle ’n prys gelykstaande aan die waarde van die aanwas-eis betaal. As hulle dit nie kan doen nie, gaan die boedel oor na die weduwee.
In albei gevalle kon lewensversekering aangewend word om die geld beskikbaar te stel. As so ’n eis teen die langslewende gade is, word dit beskou as ’n eis ten gunste van die boedel en kan dit gebruik word om boedellaste te betaal.
As enigiets oorbly, kan dit verdeel word onder erfgename en begunstigdes soos bepaal in die testament.
Van die weduwee kan dan verwag word om ’n aanwas-eis aan die boedel oor te betaal en moet daar dus voorsiening gemaak word daarvoor.
Die probleem word erger as die man sy bates aan minderjariges in ’n trust nalaat aangesien die Meester sal aandring dat alle eise ten gunste van die boedel betaal word. ’n Kontantbetaling moet dus aan die trust gemaak word.
Lewensversekering sal die oorlewende in staat stel om die aanwas-eis te betaal. Die polis word as ’n aftrekking beskou en is nie deel van die boedelberekening nie.