Met die Kerstyd om die draai, wil ek ‘n paar algemene sake wat almal van ons raak, van nader beskou.

Kom ons val sommer met die beleggingsmarkte-deur in die huis. Die afgelope tyd het dit maar broekskeur met beleggingsopbrengste oor ‘n wye front gegaan.

Amerikaanse markte het gesteier teen die hoër as verwagte inflasie en die die gepaardgaande stygende rentekoerse.

Dieselfde geld vir Europa. Dit is ongehoord dat Brittanje se inflasiekoers byna 15 persent beloop!

Inperkings in verskeie van China se grootste stede weeg swaar op daardie land se markte en dit het buitelandse markte verder laat verswak. Die Suid-Afrikaanse aandelemark volg hierdie markte slaafs na en daarom was dié ook heelwat laer.

Vanuit eie geledere, het Eskom weer daarin geslaag om ‘n rekord aan te teken in terme van die duur van die nuutste beurtkragsessies en dit weeg bitter swaar op handelsaktiwiteite.

Die rand het behoorlik na sy asem gesnak soos hy by die versterkende Amerikaanse dollar probeer bybly het, maar het tot bykans R19 per dollar verswak nadat dit uit stoom uit gehardloop het.

Die goeie nuus is dat markte die afgelope maand ‘n ommekeer begin toon het en nou drasties styg. Verder blyk dit dat die Amerikaanse inflasiekoers ‘n draaipunt bereik het en dat China sy Covid-maatreëls verslap.

Vir Suid-Afrikaanse verbruikers is nuus rondom die korttermynversekeringsmark ietwat minder rooskleurig.

Versekeraars se onderskrywingswinste is onder druk en daar kan selfs verliese wees. Tesame met die swak beleggingsopbrengste voorspel dit net moeilikheid.

Swak onderskrywingswinste is te wyte aan verskeie faktore soos die hoër pryse van motoronderdele, onstabiele weerstoestande en ‘n toename in eise as gevolg van beurtkrag.

Versekeraars moet dus noodgedwonge strenger onderskrywingsmaatreëls in plek sit asook premies verhoog om hierdie risiko’s aan te spreek.

Nee, dis nie nou die tyd om van versekeraars te verander omdat die gras groener aan daai kant lyk nie – hul premieverhogings sal volg. Waarheen dan?

Vir ‘n voorspoedige nuwe jaar, berei jouself voor vir hoër premies en slaan ag op die raad van jou tussenganger in hierdie verband.

Tags: