Indien vrae soos wanneer, waar en hoeveel ek vir my aftrede moet spaar jou snags wakker hou, het jy waarskynlik nog nie ’n werkende geldplan nie.
Aftreebeplanning, wat noodwendig beleggings insluit, is een van die bene waarop jou finansiële toekoms staan.
Hoewel persone se behoeftes verskil, is dit vir almal ewe belangrik om soveel en vroeg as moontlik te begin spaar.
Die heer Albert Einstein het eens gesê rente op rente is die sterkste krag in die heelal en die hoë oktaan-branstof van beleggings.
Mense is geneig om die waarde van ’n vroeë begin te onderskat. Hoe langer jy uitstel, hoe moeiliker gaan dit word om jou aftreedoelwitte te bereik.
Indien jy byvoorbeeld op 25-jarige ouderdom begin spaar, sal jy rondom 12.5% van jou salaris moet wegsit. Vyf jaar later verhoog die sommetjie tot 16% en, ná nog vyf jaar, 27%.
Bou ’n gediversifiseerde beleggingsportefeulje oor tyd. Spaar is nie tot geldmarkfondse, aandele en aftree-annuïteite beperk nie.
Eiendomsbeleggings en jou eie besigheid is ander voorbeelde. Wanneer jy in jouself belê, is die opbrengs gewoonlik hoog, maar somtyds riskant.
Die vraag hier is watter rol die finansiële beplanner kan speel. Om te spaar is een ding, maar om die fondse reg te belê is ’n heel ander storie.
Die finansiële beplanner moet bereken hoeveel kapitaal jy gaan nodig hê om sinvol af te tree en doen dit normaalweg met jou huidige situasie as agtergrond.
Dit is egter nie moontlik om ’n sinvolle beleggingsaanbeveling sonder volledige beplanning te doen nie. Daar moet vasgestel word wat jou risikoprofiel is en daarvolgens moet die beleggingsportefeulje saamgestel word.
As jy nie ’n aptyt vir risiko het nie, sal dit byvoorbeeld gevaarlik wees om in aandele te belê. Mense is geneig om meer risiko in ’n bulmark as beermark te wil neem – wat die risikoprofiel verhoog.
Die regte manier is om ’n teikenopbrengs te bepaal en die portefeulje daarvolgens saam te stel.
Die finansiële beplanner moet verder vasstel of jy maksimale voordeel trek uit die belastingverligting wat sekere beleggings bied. Indien die voordeel daar is, moet mens tog daarvan gebruik maak.
Jou adviseur moet ook jou beleggingsportefeulje monitor en wysig soos jou omstandighede en behoeftes verander. Finansiële beplanning en die gereelde hersien daarvan is noodsaaklik.
Omdat ’n persoon se fondse nie onbeperk is nie, is finansiële beplanning somtyds nie so maklik nie. Die truuk is om die beste plan vir die beskikbare geld uit te werk.
Dit is dus nie net mense met baie geld wat finansiële beplanning benodig nie, maar ook diegene met beperkte fondse.
Net soos spelers in ’n rugbyspan verskillende vaardighede het, het finansiële beplanners ook. Maak seker dat jy jou by iemand skaar wie jy kan vertrou en die vermoë het om die beste raad te gee.