Die doel van ’n testament is om die erflater se wense uiteen te sit sodat daar nie onsekerhede oor die bestemming van sy aardse besittings is nie.

Ongelukkig bevat testamente dikwels bepalings waarin die erflater se bedoeling nie duidelik is nie.

Dit gebeur soms wanneer “beperkte regte” in ’n testament geskep word en daar nie met sekerheid bepaal kan word watter reg geskep is nie. In hierdie artikel verduidelik ek die basiese beperkte regte.

In my voorbeeld, bemaak die erflater sy plaas aan sy seun (bare dominium), onderhewig daaraan dat sy vrou (usufructuary)die gebruik (usufruct) van die plaas moet geniet. Wat word egter met “gebruik” bedoel?

Mag sy die plaas verhuur of moet sy self boer? Wat gebeur as sy nie meer op die plaas kan bly nie? Mag sy in die plaashuis aanbly en ’n beperkte boerdery met ’n paar skape en hoenders bedryf?

Ander onsekerhede kan wees hoe lank haar beperkte reg duur en waarvoor sy en waarvoor haar seun verantwoordelik is.

Die algemeenste gebruiksreg is vruggebruik (usufruct), wat op roerende en onroerende eiendom geskep kan word. Dit gee die vruggebruiker die reg om ’n ander se eiendom te gebruik en die vrugte daarvan te neem sonder om die waarde van die eiendom te verminder. Hierdie gebruik kan beperk word tot ‘n seker tydperk of tot by dood van gebruiker.

Alle uitgawes en verbeteringe aan die eiendom is vir die gebruiker se eie rekening. Die eiendom mag verhuur word en mag hy/sy die huurinkomste gebruik.

’n Usus is verwant aan vruggebruik, met die verskil dat die bevoordeelde die bate of eiendom slegs vir hul eie en hul huishouding se daaglikse behoeftes kan gebruik. ’n Voorbeeld is om ’n paar skape aan te hou en groente vir eie gebruik te plant.

’n Fideicommissum is wanneer die erflater (fideicommitens) bepaal dat ’n bevoordeling eers aan een persoon (die fiduciarius) vererf en dan ná verloop van ’n bepaalde termyn of vervulling van ’n voorwaarde oorgaan aan ’n ander (die fideicommissarius). Voorbeeld hier sal wees as die erflater sy plaas bemaak as sy vrou en dan bepaal dat die eiendom by haar afsterwe na hul seun moét gaan. Indien die seun voor haar tot sterwe kom, verval sy reg.

Dit is belangrik om te weet dat hierdie reg ‘n waarde dra in die boedel van die persoon wat die reg erf, en word dit gesien as ‘n bate en is dus belasbaar. My raad is egter om hierdie regte slegs in uitsonderlike gevalle toe te pas as jy nie rusie in die familie wil veroorsaak nie.