Beleggers raak al hoe meer bewus van die kostes wat met beleggings gepaard gaan.

Dit is egter nie die enigste maatstaf wat gebruik moet word ten tyde van beleggingsbesluite nie.

Ek gaan my stelling op ’n eenvoudig, tog praktiese manier probeer verduidelik.

Beleggers vra byvoorbeeld dikwels vir adviseurs wat hul fooi is in plaas van ’n meer pertinente vraag – die waarde wat hulle kan toevoeg.

Onthou, normaalweg is daar drie verskillende kostes wat in jou totale fooie weerspieël word.

Die eerste hiervan is portefeulje-bestuursfooie. Dit is byvoorbeeld wat bestuursmaatskappye soos Allan Gray, Coronation of Ninety One vra om hul onderskeie fondse te bestuur. Dit kan tussen 0.7 en 2.5% wissel.

Dan is daar die administratiewe fooi van die platform. Daar is verskeie, waaronder Glacier, Momentum en Allan Gray, en hul fooie is gewoonlik tussen 0.4 en 0.6%.

Laastens is daar die adviseursfooi van tussen 0.5 en 1.5% plus BTW wat deur finansiële raadgewers soos PWM ontvang word.

’n Praktiese voorbeeld van hoe dit werk is as volg: Adviseur A kwoteer ’n bestuursfooi van 1.1%, ’n platformfooi van 0.4% en adviseursfooi van 0.5% vir ’n totale fooi van 2%. Indien die beleggingsopbrengs in hierdie geval 8.1% is, is die netto-opbrengs 6.1%.

Adviseur B se totale fooi (0.94, 0.4 en 0.75%) is 2.09% met ’n opbrengs van 9.4% – dus ’n netto-opbrengs van 7.31%. ’n Derde persoon, Adviseur C, se fooi is (1.3, 0.4 en 1.0%) 2.7% met ’n opbrengs van 12.4% en netto-opbrengs van 9.7%.

Die beleggingsopbrengs is natuurlik aan die kennis en ervaring van die adviseur gekoppel en dus een van die belangrikste elemente van die totale som.

In ons voorbeeld is Adviseur C se fooi die hoogste, maar so ook die netto-opbrengs. Mens kan dus aflei dat sy beleggingstrategie die beste is en dat hy só waarde toevoeg.

My siening is duidelik: Kostes is belangrik, maar die keuse van adviseur nóg belangriker.