Terwyl verloofdes op troureëlings fokus, skeep hulle baie keer die aspek van bateverdeling binne die huwelik af. Skryf Pieter Willem Moolman, stigter van PWM Finansiële Bestuur in Port Elizabeth.
Waar hul gemeenskaplike bates ter sprake is, kan paartjies kies om op drie maniere te trou: binne gemeenskap van goedere; buite gemeenskap van goedere sonder die aanwasbedeling; of buite gemeenskap van goedere met die aanwasbedeling.
Die eerste is wanneer daar nie ’n voorhuwelikse kontrak is nie. ’n Gemeenskaplike boedel ontstaan en die twee partye is gesamentlike administrateurs.
Dit beteken die partye geniet finansiële gelykheid en het mekaar se toestemming nodig om boedelbates te verkoop. Mondelinge en geskrewe toestemming is aanvaarbaar.
Beide partye kry outomaties ’n halwe aandeel van die boedel, hetsy die bates voor of gedurende die huwelik aangeskaf is.
Die nadeel hiervan is dat skuld deur enigeen van die partye ook in gelyke porsies deur albei “besit” word en jy kan dus maklik vir jou lewensmaat se skuld verantwoordelik raak.
Dié opsie bevat dus groot risiko’s en veral wanneer insolvensie intree.
Wanneer een van die partye sterf, word die boedel onder die administrasie van ’n enkele eksekuteur geplaas om te beredder. Dié opsie is dus nie altyd wenslik nie.
Indien ’n paartjie buite gemeenskap van goedere en sonder die aanwasbedeling wil trou, moet die partye voor huweliksluiting ’n notariële voorhuwelikse kontrak laat opstel en voor ’n notaris verly.
Dit beteken elkeen beheer sy eie boedelbates en is ook nie vir mekaar se skuld aanspreeklik nie, behalwe as daar borg geteken is.
Met dood word slegs die afgestorwe party se boedel onder eksekuteursadministrasie geplaas.
Indien hierdie opsie oorweeg word, maak seker die aanwasbedeling word in die voorhuwelikse kontrak uitgesluit. Dié klousule word sedert November 1984 outomaties ingesluit.
Die laaste opsie is buite gemeenskap van goedere mét die aanwasbedeling. Dit is soortgelyk aan die voorafgaande, behalwe dat bates wat tydens die huwelik bymekaar gemaak word, gelyk verdeel word.
Volgens die wet op huweliksgoedere, is die party wie se aanwas gedurende die huwelik kleiner was, geregtig op die helfte van die verskil van die aanwas van die twee boedels.
Hoewel jy nie vir jou maat se bestaande skuld verantwoordelik is nie, deel julle in wat tydens die huwelik versamel is. Die deling geskied net wanneer een sterf.
Dis ’n ideale keuse vir paartjies wat nog nie noemenswaardige boedels versamel het nie en ’n oplossing vir mense wat bekommerd is dat een party bates bekom wat nie sekuriteit aan die ander bied nie.
Dit bied die voordele van ’n verdeling van bates, met beskerming teen krediteure.
My raad aan verloofdes is dus om hul bateverdelingsopsies met dieselfde erns as hul troureëlings te benader.