Statistieke toon dat net een uit elke tien gesinsondernemings in Suid-Afrika tot in die derde geslag voortbestaan, skryf Pieter Willem Moolman, stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth.

Die redes vir dié verskynsel is nie altyd duidelik nie, maar ek sal ‘n paar aspekte uitlig wat sulke ondernemings se kans op sukses behoort te verbeter.

In die eerste plek moet daar ‘n opvolgstrategie wees. Dit moet byvoorbeeld nie ‘n gegewe wees dat my kinders by die onderneming gaan aansluit net omdat hulle Moolmans is nie.

Elke lid van die volgende geslag moet die vaardighede hê wat nodig is in die bepaalde bedryfsvertakking waarby hy of sy betrokke wil raak. En daar moet uiteraard poste beskikbaar wees.

Hoewel almal saamwerk om ‘n gemeenskaplike doel te bereik, moet daar ‘n bestuurshoof wees.

Voorheen was dit dikwels die oudste lid van die gesin wat dié rol vervul het, maar deesdae is dit noodsaaklik dat dit die mees geskikte persoon moet wees. In uitsonderlike gevalle kan dit selfs iemand van buite die gesin wees.

Besluite moet verkieslik op ‘n konsensusbasis geneem word. Dit wil sê almal moet daaroor saamstem.

Dat dit ‘n gesinsaak is, maak nie ander sakebeginsels ongedaan nie. Maak dus seker dat almal weet wat die langtermynstrategie en beplanning behels, wat die ondernemingsvorme is en welke gepaardgaande ooreenkomste bestaan.

Alle gesinslede hoef nie noodwendig by die daaglikse bestuur van so ‘n onderneming betrokke te wees nie. Jy kan dus ‘n mede-aandeelhouer wees en vergoeding deur middel van dividende ontvang.

In so ‘n geval kan jy as nie-uitvoerende direkteur in die direksie dien. Dit is egter raadsaam dat die gesinslede wat die onderneming bedryf ‘n groter deel van die aandele hou.

Dit is partykeer goed dat ‘n lid van die gesin eers by ‘n ander onderneming werk aangesien dit ervaring en selfvertroue bevorder.

As jy in ‘n omgewing werk waar jy nie beskerm word omdat jy die baas se seun of dogter is nie, leer jy jou eie vermoëns ken en vertrou. By ander ondernemings ontstaan ook vars idees.

Seker die belangrikste beginsel waarop die sukses van ‘n gesinsaak of familieonderneming berus, is dat dit nie oor “ek, my of myne” gaan nie.

Niemand is belangriker as enigeen van die ander nie en daar is geen plek vir egos nie. Dit gaan oor die sukses van die onderneming en die langtermyn-voortbestaan daarvan.