Die afgelope tyd word gekenmerk deur heelwat negatiewe beriggewing oor familietrusts, skryf Pieter Willem Moolman, stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth.
Die vraag het onstaan of daar nog bestaansreg vir familietrusts is en wat die modus operandi behoort te wees as daar reeds bestaande trusts met verskeie bates is.
Soos ek in ‘n vorige artikel uitgewys het, moet trusts vir die regte redes aangewend word. Indien dit jou uitgangspunt is, behoort jy geen rede tot kommer te hê nie.
Die primêre redes vir die oprigting van ‘n familietrust behoort te wees om die bates vir toekomstige geslagte te beskerm en die groei van persoonlike boedels te beperk.
Die huidige vrese is hoofsaaklik rondom belastingsake en die hantering van rentevrye lenings.
Die effektiewe kapitaalwinskoers in familietrusts is hoër en die deurvloei-beginsel is onder die soeklig. Let wel dat daar tans nog geen wysigings in belastingwetgewing deurgevoer is nie.
Die vraag is watter bates in ‘n familietrust hoort en die antwoord is langtermyn-groeibates met die doel om dit vir die nageslag te beskerm en te behou. Voorbeelde van sulke bates is plase, beleggings in aandele-portefeuljes en ook belange in sake-ondernemings.
Vermy die oordrag van spekulatiewe beleggings. As jy ‘n bate in die afsienbare toekoms wil verkoop, is dit nie raadsaam om dit in ‘n familietrust te plaas nie.
Die oordrag van langtermyn-groeibates na ‘n trust moet geleidelik deurgevoer word. Mens moet daarteen waak om jouself in ‘n likiditeitskrisis te dompel aangesien faktore soos oordragkoste en kapitaalwins ‘n rol speel.
Groeibates kan wel direk na ‘n familietrust vererf indien kontantvloei in lewe ‘n probleem is. Teen hierdie agtergrond moet benadruk word dat familietrusts steeds ‘n goeie instrument vir boedelbeplanning is.
Die oprigting van ‘n familietrust word dus nie suiwer op belastingoorwegings gedoen nie. Dit moet reg aangewend word en die administrasie daarvan moet deurgaans op datum gehou word.
Raadpleeg ‘n kundige indien jy oor die bestaansreg van jou familietrust twyfel of dalk ‘n nuwe een wil oprig. Elke persoon se omstandighede is anders en daar is ongelukkig nie ‘n bloudruk nie.