Dit val my gereeld op dat baie jongmense nie die waarde van aftreebeplanning besef nie.
Omdat dit hul houding is dat aftrede iets is waaroor bejaardes praat, versuim hulle om ’n tydjie af te knyp om oor hul aftrede te dink – min wetende dat ’n eenvoudige verandering in denkwyse later van onskatbare waarde kan wees.
Mens kan op ’n ander manier daaraan dink.
Ons weet dat suiker ’n gevaarlike bestanddeel kan wees, maar dit word in die algemeen in groot hoeveelhede gebruik. Dit is grootliks ouer mense wat hul tee bitter of met versoeters drink.
So is dit dieselfde met aftrede; dit is gewoonlik mense ouer as 50 wat daarop ingestel is op hoeveel geld hulle moet spaar om behoorlike voorsiening vir hul aftrede te kan maak.
Maar hoeveel is genoeg? Kom ons verwyder die invloed van inflasie om die antwoord te vind.
Histories weet ons dat bates normaalweg met meer as inflasie groei en dat die bedrag bo inflasie in die algemeen oor ’n 20-jaar periode konstant bly.
Begin deur uit te werk wat jy in vandag se geld benodig. As jou inkomste R40 000 per maand is en jy gelukkig is met jou huidige leefstyl, is dit waarskynlik ’n goeie maatstaf.
Die kanse is goed dat jy nie skoolgelde of ’n verband later in jou lewe sal hoef te betaal nie, maar jy sal wel tyd hê en tyd kos geld. Dink maar aan reise en restaurante asook uitgawes soos mediese sorg.
Sodra jy die maandelikse bedrag geïdentifiseer het, kan jy dit terugwerk na die kapitaal wat jy sal benodig. Vier persent word algemeen aanvaar as ’n onttrekkingskoers wat jou neseier sal beskerm – selfs al word jy 100.
Die sommetjie lyk dan so: As jy R480 000 (R40 000 x 12) per jaar nodig het, moet die beskikbare kapitaal in vandag se terme R12-miljoen (4% van R12m is R480 000) wees.
Nou het jy ’n werklike, herkenbare teiken wat jou die nodige aansporing behoort te gee.