Baie mense verkeer onder die wanindruk dat hul versekeraar nie die reg het om hul polis sonder rede te kanselleer nie.
Die persepsie is dat dit net gedoen kan word indien iemand ophou om sy premies te betaal, iets verswyg het waarvan die versekeraar moes kennis dra of ’n polisvoorwaarde verontagsaam het.
Dit is net gedeeltelik korrek. ’n Versekeringspolis is ’n kontrak soos enige ander, wat beteken dat albei partye die reg het om te kanselleer – mits daar natuurlik behoorlik kennis gegee word.
Die reg om ’n polis te kanselleer deur kennis te gee vereis nie noodwendig dat redes aangevoer hoef te word nie.
Sou die versekerde besluit om van versekeraar te verander, kan hy die polis kanselleer deur (gewoonlik) ’n maand se kennis te gee. Waar ’n jaarpremie vooruit betaal is, word die versekeraar in terme van die polisbewoording verplig om ’n gedeelte terug te betaal.
Dit is wel so dat die versekerde se kanse om elders dekking te kry aansienlik bemoeilik word indien ’n versekeraar besluit om die kontrak te beëindig.
Enige voornemende versekeraar sal gedetailleerde inligting ten opsigte van vorige eise en verliese asook poliskansellasies benodig en die versekerde is verplig om sodanige inligting te verskaf – selfs al kan dit tot die weiering om dekking te verleen, lei.
Die beste manier om ’n ongemaklike situasie te vermy, is vir die persoon om sy volledige versekerings- en eisegeskiedenis met die intrapslag op die tafel te plaas.
Sou ’n persoon besluit om sy korttermynversekering te kanselleer, beveel ons aan dat hy dit duidelik maak aan sy makelaar of versekeraar van watter datum af en, indien moontlik, op skrif.
Indien iemand sy versekering met onmiddellike effek wil stop, is dit moontlik dat die versekeraar die kansellasie sal aanvaar en selfs ’n gedeelte van die vooruitbetaalde premie terugbetaal.
Dit beteken dat hy onmiddellik sonder versekering sal wees terwyl hy moontlik onder die indruk verkeer dat hy nog tot aan die einde van die maand dekking geniet. Om dit te vermy, word vervangende dekking vir daardie periode aangeraai.
Andersins, sou daar verlies of skade ontstaan wat tot ’n eis lei, sal die versekeraar onder geen omstandighede vir die skade aanspreeklik gehou kan word nie.