Baie egpare het die neiging om hul mans/vrouens as die enigste eksekuteur in hul testament te nomineer.
Hoewel dit totaal en al aanvaarbaar is, plaas dit myns insiens onnodige druk op haar in ’n tyd wanneer sy eerder nodig het om die terugslag te verwerk.
Jy wil haar ook nie met ’n verantwoordelikheid opsaal wat buite haar vakgebied val nie. Ek stel voor dat sy tesame met ’n kundige aangewys word en dat hulle dan saam ’n agent aanstel om die boedel te beredder.
Die administrasie van ’n bestorwe boedel is tydrowend en kan jare neem om af te handel – soveel te meer as die eksekuteur onervare is.
Die proses verloop min of meer as volg.
Die eerste stap is om die boedel by die Meester van die Hooggeregshof aan te meld. Bepaalde dokumente moet dit vergesel om die eksekuteursbrief te kry.
Dit sluit die oorspronklike testament, ’n afskrif van die doodsertifikaat asook kopieë van die partye se ID-dokumente in. ’n Inventaris van die bates van die oorledene, aanvaarding van die eksekuteurskap sowel as kennisgewing van dood moet dit vergesel.
Sodra die Meester ’n eksekuteursbrief uitreik, moet die eksekuteur ’n kennisgewing in ’n plaaslike asook die Staatskoerant plaas waarin krediteure genooi word om eise teen die boedel binne ’n sekere periode aan te meld en te bewys.
In terme van Artikel 28 van die Boedelwet, moet die eksekuteur dan ’n bankrekening in die naam van die boedel oopmaak.
Ná die nodige inligting ten opsigte van die bates en laste ingesamel is, moet die waarde van die onroerende bates deur ’n geregistreerde waardeerder bepaal word.
Hierdie inligting is nodig om bates aan erfgename oor te dra en om die likwidasie- en distribusierekening op te stel.
Laasgenoemde, wat die transaksies tydens die administrasie van die boedel uiteensit, moet ook by die Meester ingedien word. Hy of sy sal die rekening dan bestudeer met die oog om dit goed te keur.
Na goedkeuring, moet die rekening vir ‘n 2de maal geadverteer word en dan vir ‘n periode van 21 dae ter insae lê by die Meesterskantoor asook relevante landdros kantoor. Sodra hierdie tydperk verstryk het, en indien daar nie klagtes is nie, is die eksekuteur in staat om die verspreiding en oordrag van bates te finaliseer.
Dis die administrasieproses in ’n neutedop en beslis genoeg rede om ’n eksekuteur met gespesialiseerde kennis aan te stel.
Moet jou nie teen eksekuteursfooie blindstaar nie. Maak eerder seker jy stel iemand aan wat die boedel in ’n redelike tydperk sinvol kan beredder.
Dis een van die beter “beleggings” wat jy in jou lewe sal maak.