Hulle sê tyd wag vir niemand nie en daarom is dit so belangrik om vir jouself tyd te “koop” terwyl jy nog jonk is, skryf Pieter Willem, stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth.
Om vroegtydig ‘n deeglike finansiële plan in werking te stel, is een van die maklikste maniere om tyd te koop.
Daar is verskeie redes hoekom ek sê finansiële beplanning is belangrik vir jong volwassenes.
Dit help jou om skuld te kontroleer, inkomste-, kapitaalwins- en boedelbelasting te bespaar, beskikbare kapitaal vir beleggings te identifiseer en om die korrekte beleggingsvoertuie vir die doelwitte te gebruik.
Goeie finansiële beplanning kan ook help om finansiële druk by ongeskiktheid, ontydige dood en in die geval van gevreesde siektes te verlig.
Myns insiens is dit ononderhandelbaar vir jong volwassenes met afhanklikes om die nodige voorsorgdekking in plek te hê.
Dit is belangrik om te besef dat hoe vroeër jou finansiële sake in plek is, hoe beter jy toegerus gaan wees vir enige finansiële uitdagings wat die lewe mag bied.
Een voordeel van ‘n jong volwassene, is dat jy min of meer reeds weet vir watter groot uitgawes jy moet beplan. Dink maar aan jou eerste huis, kinders, hul onderrig en dan natuurlik jou aftrede.
Dit is belangrik om so vroeg moontlik ‘n finansiële plan in werking te stel om hierdie uitgawes te finansier wanneer die tyd reg is.
Belê nou reeds in jou kinders se opvoeding en in jou aftrede – al voel beide nog ver weg. Die hoeveelheid wat jy wegsit is nie nou belangrik nie, maar wel dat jy ‘n begin maak.
Hoe vroeër jy begin, hoe beter gaan die tyd wat jy “gekoop” het vir jou kan werk. Indien dit reg gebruik word, is tyd die kosbaarste bate wat ‘n jong volwassene kan besit.
As jy die groter prentjie kan sien en nie net van dag tot dag lewe nie, sal jy ‘n groot verskil in finansiële welvaart oor die langtermyn ervaar. En dis wat ek ‘n bielie van ‘n plan noem.