Wanneer dit by huiseienaarsversekering rondom jou fisiese huis kom, is mense dikwels onseker hoe om die vervangingswaarde te bepaal, skryf Pieter Willem Moolman, stigter van PWM Finansiële Bestuur in Port Elizabeth.
Die veronderstelling is gewoonlik dat dit die bedrag is waarvoor die bank dit waardeer het, waarvoor dit gekoop is of waarvoor jy dit kan verkoop. Dit is egter nie so eenvoudig nie.
Om uit te werk hoeveel huiseienaarsversekering benodig word, moet mens eers verstaan wat jou privaatwoning behels.
Behalwe die huis self, kan dit byvoorbeeld buitegeboue en vaste toebehore, ornamentele strukture en ontspanningsgeriewe insluit. Plaveisel en ander bedekte areas van baksteen, beton, teer of klip moet ook nie vergeet word nie.
Dan is daar ook mure, hekpale, hekke (insluitend masjinerie wat daarmee verband hou), satellietskottels, weerligafleiers, vaste kragopwekkers, boorgatmasjinerie vir huishoudelike gebruik asook septiese tenks wat ‘n impak kan hê.
Moet ook nie in die strik trap dat jy dink huiseienaarsversekering is net nodig terwyl jy nog ‘n verband afbetaal nie. Indien jou huis byvoorbeeld sou afbrand, het jy steeds die dekking nodig om jou huis teen die huidige boukoste te kan herbou. Die koste van die grond is nie van toepassing nie.
‘n Vinnige manier om te bereken waarvoor jy jou huis moet verseker, is om die totale vierkante meter daarvan met die huidige riglyne vir boukoste in jóú gebied te maal. Dis iets waarmee jou versekeringsmakelaar kan help.
Behalwe vir die grootte en boukoste, kan faktore soos die tipe konstruksie- en messelwerk die eindbedrag ook beïnvloed. Dink ook aan dakkonstruksie en materiale wat gebruik is, styl van die woning en hoeveelheid vertrekke.
Verder kan strukture soos motorhuise, afdakke en kaggels, spesiale ontwerpe en eksterne afwerkings soos boogvensters ‘n invloed hê.
Standaard-huiseienaarspolisse bied gewoonlik dekking teen natuurrampe, maar nie teen verliese en skade wat verband hou met roetine-instandhouding of die inkrimping en uitsetting van grond nie.
Omdat daar uitbreidings is wat in ag geneem moet word, stel ek voor jy bespreek jou huiseienaarsversekering breedvoerig met jou makelaar.