Ná omtrent vier jaar van skrale en selfs geen opbrengste is beleggers taamlik verward en ontmoedig, skryf Pieter Willem Moolman, stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth.

Voorheen het hulle verwag dat hul beleggings al om die ses of sewe jaar moet verdubbel; ‘n jaarlikse groeikoers van naastenby 15 persent.

Ongelukkig het dit nie die afgelope tyd gebeur nie. Daarom raak party beleggers ongeduldig en tree sommiges irrasioneel op.

Emosionele besluite ten opsigte van beleggings is gewoonlik verkeerd aangesien markregstellings en ekonomiese onstuimigheid al voorheen plaasgevind het en wéér gaan opduik. Beleggers moet dus in dié dae geduld aan die dag lê.

Dit is nie om dowe neute dat Warren Buffet sê die aandelebeurs is ‘n meganisme waarmee rykdom van die ongeduldige na die geduldige oorgedra word nie. Volgens hom is die teken van die einde van ‘n afwaartse siklus wanneer mense wat gedink het hulle is langtermyn-beleggers die beurs summier verlaat.

Die ekonomiese ontleder Theo Vorster sê die mark het die afgelope 20 jaar by drie geleenthede met oor die 30 persent gedaal. Nogtans het ‘n goeie belegging in dié periode van R10 000 tot R100 000 gegroei.

‘n Goeie, gediversifiseerde portefeulje, tyd en geduld bly die belangrikste beginsels. ‘n Negatiewe tydperk van drie, ses of 12 maande, selfs langer, moenie dié grondslag verander nie.

Soos al tevore in een van dié rubrieke uitgewys is, bly inflasie jou grootste vyand; nie korttermyn-wisselvalligheid en negatiewe markskommelinge nie.

Pas op dat ‘n gebrek aan kundigheid jou nie op die lang termyn duur te staan kom nie. Maak seker jy het ‘n kundige om jou beleggingsportefeulje só saam te stel dat dit aan jou behoeftes voldoen.